Central SA
Klerksdorp: Families wag steeds op antwoorde ná dood van vier jong mense─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:27 Sun, 31 May 2026
Die vier families van Klerksdorp wie se kinders byna drie jaar gelede van hulle weggeruk is, hoop die volgende hofverskyning sal meer duidelikheid bring oor die verloop van die saak.
Edward Letsie (34), voormalige prokureur, se saak is Vrydag (29/5) in die Klerksdorp-streekhof tot 17 Junie uitgestel. Dit is die vyfde keer dat die saak uitgestel word.
Sy nuwe regsverteenwoordiger was nie in die streekhof teenwoordig toe hy verskyn het nie, maar het wel kort daarna opgedaag.
Strafbare manslag
Letsie staan tereg op vier aanklagte van strafbare manslag weens die dood van Michael Esterhuizen, Jackie Willis (21), sy meisie, Max Knott-Craig (22), sy beste vriend, en Jané Janse van Rensburg (19), Knott-Craig se meisie..
Hy het op 23 Januarie, byna 18 maande ná die ongeluk, die eerste keer in die verkeershof verskyn, maar die saak is intussen na die streekhof oorgeplaas.

Ruan Esterhuizen saam met sy twee susters, Denice en Cherice. Foto verskaf
Die staat het tydens die verrigtinge in Januarie gesê die polisieondersoek is afgehandel. Die vier jong mense is op 13 Oktober 2024 in ’n botsing op die kruising van die N12 en Plataanlaan in Klerksdorp dood.
Hulle was omstreeks 19:00 vanaf die Matlosana-winkelsentrum op pad huis toe en het regs gedraai by ’n verkeerslig toe ’n Mercedes-Benz, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, met hul voertuig gebots het.
Hulle het die dag saam by die dam deurgebring.

Jackie Willis. Foto verskaf
Esterhuizen, Willis en Janse van Rensburg is op die toneel oorlede. Knott-Craig is ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings dood.
Die bestuurder van die Mercedes-Benz het na bewering van die toneel gevlug en die voertuig agtergelaat. Hy het hom twee dae ná die ongeluk by die Klerksdorp-polisiekantoor oorgegee, het kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Max Knott-Craig. Foto verskaf
Hollie Janse van Rensburg, Jané se ma, sê die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. “Die mense wat ons voor die ongeluk was, bestaan nie meer nie. Ons is vreemdelinge vir onsself.”
Die families sê die ongeluk het hulle gebreek.

Jané Janse van Rensburg. Foto verskaf
“Hy het nie net vier lewens daardie nag geneem nie. Hy het vier gesinne se lewens verwoes. Ons sal nie ophou voordat geregtigheid geskied nie.”
Die saak is die afgelope vyf maande reeds verskeie kere uitgestel omdat Letsie se regsverteenwoordiger nie opgedaag het nie. Hy het ook reeds van verskillende regsverteenwoordigers gebruik gemaak.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

