On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Verdwene man van Kroonstad se seuntjie weet nog van niks

───   SUSAN MARÉ 13:21 Mon, 01 Jun 2026

Verdwene man van Kroonstad se seuntjie weet nog van niks  | News Article
Hugo du Preez word al byna drie maande vermis. Foto verskaf

’n Man wat amper drie maande gelede laas op die N1 naby Koppies gesien is, word steeds vermis terwyl twee sieners meen hy is naby water.

Hugo du Preez (43), wat sedert 14 Maart vermis word, is nog nie gevind nie. Volgens amptelike bronne en nuus hieroor op sosiale media het hy soos mis voor die son verdwyn.

Hy is as vermis aangemeld nadat sy wit VW Polo glo in ’n ongeluk betrokke was op die N1 naby Koppies. Du Preez is volgens ooggetuies op die dag van sy verdwyning glo gewaar waar hy op die N1 in Johannesburg se rigting geloop het.

Die veiligheidsverteenwoordiger van Kroonstad was vermoedelik op pad na Sasolburg toe sy motor in ’n ongeluk was en die verkoeler beskadig is. Hy het glo kort voor sy verdwyning verskeie boodskappe aan mense gestuur, insluitend sy suster, Sandra Swanepoel.

Hugo du Preez se seuntjie weet steeds nie sy pa word vermis nie. Foto verskaf

Du Preez se persoonlike besittings, soos sy skootrekenaar, selfoon en beursie, is in die motor gevind. ’n Uitgebreide ondersoek deur die polisie en honde-eenhede het nog niks opgelewer nie. Selfs hommeltuie is gebruik om na hom te soek.

Hy word as fris gebou beskryf, tussen 1,6 m en 1,7 m lank met donkerbruin hare, grys in sy baard en blou oë. Die klere waarin hy gewaar is, was kort somersklere en plakkies. Hy het verskeie tatoeëermerke, onder meer een aan een van sy kuite.

Die ma van sy seuntjie, Sarrienne Cilliers (43), wat in die ooste van Johannesburg woon en as skoonheidsdeskundige werk, sê hulle hou nog Du Preez se verdwyning vir hom geheim, wat die spanning en onsekerheid vir haar ondraaglik maak.

‘My seuntjie van nege jaar mis sy pa. Ek het vir hom gesê (sy) pa werk in Afrika’

“Niks maak sin nie. Ek het al soveel nare scenario’s beleef oor wat moontlik met hom kon gebeur het,” vertel sy. “Het hy dalk sy kop gestamp in die ongeluk? Hoe het ’n ooggetuie in die donker nag gesien hy het tatoeëermerke? En daar is blykbaar geen verdere inligting by die polisie oor die ooggetuie wat hom op die N1 gesien loop het.”

Sy moet dringend antwoorde kry, sê sy. “My seuntjie van nege jaar mis sy pa. Ek het vir hom gesê (sy) pa werk in Afrika, waar daar nie sein is nie. Hy het aandagafleibaarheidsindroom en ek moet mooi werk met hom.

“Ek is meer bekommerd oor my kind. Dit is vir my sleg om soort van agteraf met hom te wees. Ek het nou al twee maande nie onderhoud gekry nie en is administratief in ’n duisternis. Skuld hy nog op sy kar en hoeveel? Ek kom nie reg by die bank nie.”

Uit desperaatheid, het sy twee sieners geraadpleeg. “Albei het afsonderlik van mekaar gesê Hugo is naby ’n plek waar daar water is, moontlik Koppies.”

Terwyl sy bedags haar beste voetjie moet voorsit vir kliënte, wonder sy onwillekeurig of die polisie genoeg doen om Du Preez op te spoor. “In hierdie stadium is ek meer bekommerd oor my kind en (ek) moet die goeie en blink kant bo hou terwyl (ek) die verdwyning van sy pa sielkundig swaar verwerk.”

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.