Central SA
Vaaldriehoek: Vrou wat glo kennis dra van munisipale klerk se moord, bly in aanhouding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:53 Tue, 02 Jun 2026
’n Vrou van die Vaaldriehoek is borgtog geweier nadat die hof gehoor het sy het moontlik geweet wie ’n finansiële klerk van die Emfuleni-munisipaliteit vermoor het.
Janitha van Reenen (25) het Maandag (1/6) in die landdroshof op Vanderbijlpark op ’n aanklag van bedrog voorgekom. Die Emfuleni-munisipaliteit het weens ’n bedrogskema na bewering sowat R424 000 verloor, sê Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder.
Volgens die staat het Van Reenen haar voorgedoen as ’n onafhanklike diensverskaffer wat inwoners van Vanderbijlpark, Vereeniging en omstreke kon help om afslag op hul munisipale rekeninge te bekom. Die beweerde bedrog is ontbloot nadat Martha Mani Rantsofu, ’n klerk in die finansies-en-inkomsteafdeling, ongewone eise van sowat R424 000 opgemerk, sê Mahanjana.
Sy het dit onder haar bestuurder se aandag gebring. Ná ’n interne ondersoek is die saak by die polisie aangemeld.

Martha Mani Rantsofu. Foto verskaf
Slagoffers het glo geld aan Van Reenen oorbetaal met die verstandhouding dat sy, nadat afslag toegestaan is, die betalings namens hulle aan die munisipaliteit sou maak. Die geld is egter volgens die bewerings nooit aan die munisipaliteit oorbetaal nie.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê Van Reenen was nie ’n werknemer van die munisipaliteit nie, maar ’n sakevrou wat haarself as ’n munisipale amptenaar voorgedoen het. “Op dié wyse het sy (na bewering) verskeie mense bedrieg.”
Van Reenen het glo ook inligting oor die moord op Rantsofu wat op 3 Maart helder oordag op Vanderbijlpark doodgeskiet is. Die klerk het by ’n onderneming gewag terwyl ’n pap band aan haar voertuig herstel is toe ’n onbekende man haar nader en op haar skiet.
Beeldmateriaal van veiligheidskameras wys hoe sy oomblikke voor die aanval op haar selfoon besig was voordat die verdagte haar op kort afstand geskiet het.
Moses Raditsela, staatsaanklaer, het tydens die borgtogaansoek gesê Van Reenen kan moontlik met staatsgetuies inmeng. Hy meen sy hou ’n vlugrisiko in aangesien haar woonadres nie voldoende bevestig kon word nie.
“Van Reenen het na bewering ook ’n waarskuwingsverklaring aan die polisie afgelê waarin sy glo sê sy weet wie vir Rantsofu se moord verantwoordelik is,” sê Mahanjana.
Sy sal weer op 23 Junie in die hof verskyn.
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

