On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Twee vas ná Krugerwildtuin-moord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:27 Wed, 03 Jun 2026

Twee vas ná Krugerwildtuin-moord | News Article
Links: Willie Aucamp, minister van bosbou, visserye en die omgewing. Regs: Die vermoorde Marais-egpaar, Dina en Ernst. Foto verskaf

Twee mans is in Mosambiek vir ondervraging in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n egpaar in die Krugerwildtuin.

Ernst (71) en Dina Marais (73) is Woensdag 20 Mei by Crooks Corner in die Krugerwildtuin vermoor. Hulle het Dina se verjaarsdag op 19 Mei gevier.

Toeriste het die paartjie se liggame twee dae later in vlak water op die oewer van die Limpoporivier aangetref. Albei het veelvuldige steekwonde opgedoen.

“Ons het gesê hierdie misdadigers sou aangekeer word, en dit is presies wat gebeur het,” sê Willie Aucamp, minister van bosbou, visserye en die omgewing. “Ek wil graag almal bedank wat van die begin af onvermoeid gewerk het om hierdie deurbraak te verseker.”

Die inhegtenisneming volg ná samewerking met die nasionale misdaadondersoekdiens, Mosambiek se ondersoekagentskap vir ernstige en georganiseerde misdaad, die Wildlife Justice Commission en die Krugerwildtuin se veldwagterdienste.

Tragedie in Wildtuin: Minister sê ‘Kruger sal nie sy onskuld verloor nie | News Article

Ernst en Dina Marais van Mosselbaai. Foto verskaf

“Suid-Afrika gaan die formele uitleweringsproses begin om die verdagtes na Suid-Afrika te bring om tereg te staan vir hierdie gruwelike misdaad,” sê Aucamp. “Ek het met my kollegas by die departemente van internasionale betrekkinge en samewerking en justisie gesels om die belangrikheid te beklemtoon om die verdagtes se terugkeer te verseker sodat hulle die volle mag van die wet kan trotseer.”

Die minister het sy waardering uitgespreek teenoor die personeel van die Suid-Afrikaanse nasionale parke, die polisie, Mosambiekse owerhede en bewaringsvennote vir hul buitengewone toewyding en samewerking wat tot die inhegtenisname gelei het. “Misdaad sal nie in Suid-Afrika se nasionale parke geduld word nie.”

Die Marais-egpaar se bakkie. Foto verskaf

Aucamp versoek gemeenskappe en wetstoepassingsagentskappe om voort te gaan om saam te werk om hierdie gebiede te beskerm.

“Terwyl die Marais-gesin ’n verpletterende verlies gely het, hoop ek hierdie inhegtenisneming bied ’n mate van vertroosting terwyl hulle voortgaan met hierdie moeilike reis.”

Die Marais-egpaar se Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie is verlede Dinsdag verlate gevind in die Chokwe-gebied in suidelike Mosambiek, ongeveer 350 km vanaf die Pafuri-gedeelte van die Krugerwildtuin. Die voertuig se nommerplate is verwyder.

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.