Central SA
Mediese nagmerrie: Vaalpark-vrou sit met R1,5 m.-rekening, gapende wond─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:54 Thu, 04 Jun 2026
Meer as R1,5 miljoen aan mediese onkoste, drie operasies, maande weg van haar huis af en ’n wond wat steeds nie genees nie.
Dit is die werklikheid waarmee ’n vrou van die Vaaldriehoek saamleef ná ’n veronderstelde roetinerugoperasie. Dina Ferreira (62) van Vaalpark se lewe het op 16 Februarie onherroeplik verander toe sy vir ’n rugoperasie in ’n privaat hospitaal opgeneem is.
Wat veronderstel was om ’n drie dae lange hospitaalverblyf te wees, het ontaard in ’n maande lange mediese stryd vol komplikasies, infeksies en emosionele trauma.
Ferreira het aanvanklik hulp gesoek nadat sy met erge rugpyn wakker geword het. ’n MRI-skandering het gewys daar was beenvorming tussen haar werwels wat chirurgiese ingryping vereis het.
“Die neurochirurg het nooit vir my verduidelik presies hoekom dit gebeur het nie. My huisdokter het later gesê dit is waarskynlik degeneratief en as gevolg van my ouderdom,” vertel sy.

Ferreira in die hospitaal. Foto: Vaalweekblad
Sy het eers besef iets skort toe sy ná die operasie in die intensiewesorgeenheid wakker word. “Ek het die spinale vogdreinering langs my bed gesien en gevra waarvoor dit is.
“Die suster het vir my gesê: ‘Doctor nipped your spinal fluid bag.’ Dit was die eerste keer dat ek gehoor het iets het tydens die operasie skeefgeloop.”
Sy is nie voor die operasie oor die moontlike risiko’s van ’n rugmurgvoglekkasie of ernstige komplikasies ingelig nie, beweer sy. Hoewel die rugoperasie suksesvol was, het die beskadiging van die spinale vogsakkie tot verdere probleme gelei.
Terug by die huis
Ná haar ontslag op 4 Maart het sy by vriende tuisgegaan om te herstel, maar enkele dae later het sy ontdek dat haar wond steeds lek.
“Toe my pleisters afval, was alles nog nat en taaierig. By ongevalle het hulle foto’s van die wond vir my dokter gestuur, maar hy het nie op boodskappe of oproepe gereageer nie. Hulle het die foto’s na ’n ander neurochirurg gestuur wat onmiddellik gesê het ek moet opgeneem word.”
Sy is op 9 Maart hospitaal toe vir ’n tweede operasie om die voglek te probeer seël. Die volgende terugslag was toe klebsiella en ’n bakteriële infeksie by haar gediagnoseer is.
‘Ek het reeds drie dae in isolasie gelê voordat iemand vir my gesê het ek het klebsiella’
Ferreira is meegedeel dat sy waarskynlik die kiem in die intensiewesorgeenheid opgedoen het. “Ek het reeds drie dae in isolasie gelê voordat iemand vir my gesê het ek het klebsiella. Daarna het hulle verduidelik dat ek antibiotika nodig het wat meer as R36 000 sou kos.”
Haar familie en seun, wat oorsee woon, het aangebied om finansieel by te dra indien haar mediese fonds nie die behandeling sou goedkeur nie.
“Ek moes selfs ’n vorm teken waarin ek verantwoordelikheid aanvaar vir die rekening indien die mediese fonds nie betaal nie.”
Sy is ook dae lank afgesonder. Eers later is kennisgewings op die deur aangebring wat vereis het dat besoekers maskers, handskoene en beskermende voorskote moes dra.
Nog ’n operasie
Haar mediese stryd was egter nog nie verby nie. Ná verdere wondbehandeling met vakuummasjiene en intensiewe wondsorg moes sy geopereer word. Teen verlede maand het sy reeds drie operasies ondergaan, maar selfs nadat die wond weer toegewerk is, het dit steeds oopgebreek.
“Toe die steke op 19 Mei uitgehaal word, het die wond weer oopgegaan. Ek gaan nou nog twee keer per week na die wondkliniek.” Verpleegpersoneel het onlangs ontdek dat daar selfs nog steke in die wond agtergebly het.
Die finansiële impak van die hele proses was enorm. “Die eerste hospitaalrekening alleen was sowat R605 000. Dan was daar die spesialiste, fisioterapie, antibiotika, toetse, wondsorg en die vakuummasjiene. Alles saam beloop nou byna R1,5 miljoen.”
Benewens die pyn, sê Ferreira, het die ervaring haar emosioneel diep geraak. “Ek is ’n depressielyer en hierdie hele ervaring het baie trauma veroorsaak.
“Ek kan steeds nie gemaklik sit of op my rug lê nie. My kinders is oorsee, my broers en susters woon ver en twee van hulle veg self teen kanker.”
Met dié dat haar mediese fonds uitgeput is en die behandeling wat voortduur, sê Ferreira sy voel soms moedeloos. “Ek wil my berader gaan sien, maar op hierdie stadium weet ek nie meer wat die toekoms inhou nie. Ek is net moeg. Ek het nooit gedink ’n rugoperasie sou my lewe só verander nie.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

