Central SA
Brandstigting by kragboks in Kimberley dalk georganiseerde sabotasie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 18:48 Thu, 04 Jun 2026
Sol Plaatje-munisipaliteit sê Kimberley gaan gebuk onder ’n gekoördineerde misdaadvlaag nadat talle kragbokse aan die brand gesteek is.
Die jongste voorvalle wek kommer oor die veiligheid van noodsaaklike munisipale infrastruktuur. Die bokse word doelbewus geteiken, waarskynlik vir die koper binne-in. Dit kom moontlik neer op ekonomiese sabotasie, sê Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder.
Die munisipaliteit het Dinsdag (2/6) ’n kennisgewing aan inwoners uitgereik nadat sowat sewe pilaarbokse binne ongeveer 48 uur in brandstigtingaanvalle beskadig is. Die munisipaliteit glo die voorvalle was nie lukraak nie, maar deel van ’n goed georganiseerde netwerk. “Dit is hoogs onwaarskynlik dat byna sewe aanvalle binne 48 uur sonder enige koördinering sou plaasvind,” sê Mothibi.
Die patroon dui op georganiseerde misdaad. Oortreders tree doelbewus en volgens ’n gestruktureerde plan op. Inwoners word versoek om verdagte aktiwiteite by munisipale elektriese infrastruktuur aan te meld, terwyl die munisipaliteit intussen werk aan maatreëls om sy bates en kritieke infrastruktuur beter te beskerm.

Theo Joubert, VF Plus-wetgewerlid. Foto VF Plus
“Die munisipaliteit bly verbind tot die beskerming van noodsaaklike dienste en die herstel van beskadigde infrastruktuur so gou as moontlik. Ons moet ook ’n strategie hê om seker te maak dat ons ons eie bates as die munisipaliteit beskerm,” sê Mothibi.
Die VF Plus veroordeel intussen die doelbewuste brandstigting van elektriese kragbokse in Kimberley ten sterkste. Dit ontneem inwoners en besighede van elektrisiteit en plaas verdere druk op reeds kwesbare infrastruktuur.
“Elke beskadigde kragboks beteken dat belastingbetalers uiteindelik vir die herstelwerk sal moet betaal, terwyl die kernvraag bly waarom sulke infrastruktuur so maklik geteiken word,” sê Theo Joubert, VF Plus-wetgewerlid.

Lisa Schickerling, Noord-Kaapse provinsiale voorsitter. Foto verskaf
Die party vra die munisipaliteit moet verduidelik watter maatreëls getref word om soortgelyke voorvalle te voorkom en watter stappe gedoen word om aanslae te verhoed.
Die DA vra intussen dringende ingryping, verhoogde polisiesigbaarheid en dat lt. genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, meer patrollies in die Diamantstad ontplooi.
“Die toename in brandstigtingaanvalle het reeds gebiede soos Diamantpark, Herlear, die middestad en Monument Heights sonder elektrisiteit gelaat nadat infrastruktuur beskadig is,” sê Lisa Schickerling, Noord-Kaapse provinsiale voorsitter.
Die DA verwys na ’n voorval in El Toro Park waar ’n kragboks in MacDougallstraat in die vroeë oggendure ontplof het, wat verdere kommer oor herhaalde aanvalle laat ontstaan.
Of die motief nou koperdiefstal of doelbewuste sabotasie is, inwoners is diegene wat die koste dra terwyl belastingbetalers steeds vir die herstelwerk moet opdok, sê Schickerling. Sy vra dat die polisie ondersoek instel om te bepaal of die aanvalle aan georganiseerde misdaad gekoppel kan word.
Albei partye waarsku dat voortgesette aanvalle op kritieke infrastruktuur nie net finansiële druk op die munisipaliteit plaas nie, maar ook die veiligheid en daaglikse lewe in Kimberley ernstig ontwrig.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

