Central SA
Griekwastad-moordenaar bly agter tralies─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:27 Fri, 05 Jun 2026
Die Griekwastad-moordenaar sal nie binnekort vrygelaat word nie nadat sy vrylating op parool teruggetrek is.
Die Upingtonse korrektiewetoesig-en-paroolraad het in Desember aanvanklik parool aan die oortreder toegestaan. Dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, het Donderdag (4/6) bevestig hy sal agter tralies bly.
Die 29-jarige is in Augustus 2014 tot ’n effektiewe 20 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan drie aanklagte van moord, die verkragting van ’n minderjarige en regsverydeling. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Marthella Steenkamp. Foto: Facebook
Groenewald het einde Januarie besluit om die saak vir hersiening te verwys nadat hy die nodige dokumentasie, insluitend die oortreder se profiellêer, aangevra en bestudeer het. Die minister sê hy het talle versoeke uit die gemeenskap ontvang om die oorspronklike paroolbesluit te laat hersien.
Die korrektiewetoesig-en-paroolhersieningsraad wat onder voorsitterskap van ’n regter van die hooggeregshof optree, moes die oorspronklike besluit van die paroolraad evalueer en besluit of dit bekragtig of vervang moes word.
Die raad het besluit om die oorspronklike besluit tersyde te stel. “Die nuwe besluit is die paroolraad se besluit word herroep en parool word nie toegestaan nie,” sê Groenewald.

Deon en Christel Steenkamp. Foto: Facebook
Die oortreder sal sy vonnis moet voortsit en aan bepaalde voorwaardes voldoen voordat enige aansoek om parool weer oorweeg sal word. Luidens berigte sal verdere rehabilitasieprogramme deel van dié proses vorm.
Deon (44) en Christel (43) Steenkamp en hul dogter, Marthella (14), is op Goeie Vrydag 2012 op hul plaas, Naauwhoek, naby Griekwastad vermoor. Die beskuldigde het beweer die gesin was slagoffers van ’n plaasaanval en ondersoekers probeer oortuig onbekende aanvallers was verantwoordelik vir die misdade.
Hy het selfs ’n plaaswerker valslik as verdagte geïmpliseer. Forensiese ondersoeke, waaronder ballistiese toetse, bloedspoorontleding en die rekonstruksie van die misdaadtoneel, het egter sy weergawe stelselmatig weerlê. Die ondersoek toon die moorde het in sy teenwoordigheid plaasgevind en die sogenaamde plaasaanval het nooit plaasgevind nie.
Regter Frans Kgomo het hom op 27 Maart 2014 op al vyf aanklagte skuldig bevind. Die staat het aangevoer die moorde was deel van ’n berekende poging om die verkragting van Marthella te verdoesel. Hy is twee dae voor sy 18de verjaardag tronk toe gestuur.
Die identiteit van die oortreder kan nie bekendgemaak word nie omdat hy ten tyde van die misdrywe 15 jaar oud was. Die Konstitusionele Hof het beslis die identiteit van minderjarige misdadigers en minderjarige slagoffers moet beskerm word, selfs nadat hulle volwassenheid bereik het.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

