Central SA
Nuwe uitstalling: Museum wys Nederland se rol in Anglo-Boereoorlog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:03 Fri, 05 Jun 2026
’n Nuwe museumuitstalling in Bloemfontein werp lig op ’n minder bekende hoofstuk in die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902).
Dit herinner besoekers aan die belangrike rol wat Nederland in die Boererepublieke se vryheidstryd gespeel het. Die afdeling is Woensdag (3/6) in die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein geopen.
Die opening vorm deel van projekte wat die geskiedkundige bande tussen Suid-Afrika en Nederland onder die aandag bring.
Joanne Doornewaard, Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika, Botswana, Lesotho en Eswatini, het tydens die opening gesê die museum speel ’n belangrike rol in die bewaring van Suid-Afrika se geskiedenis, en ook in die herdenking van die uitwerking van oorloë op vroue en kinders wêreldwyd.
Een van die gaste bewonder die nuwe uitstalling. Foto: Charne van der Merwe
Die uitwerking van oorlog op veral vroue en kinders word dikwels uit geskiedkundige vertellings gelaat, meen sy. “Ek is trots om die nuwe afdeling oor die Nederlandse betrokkenheid in die Anglo-Boereoorlog te open.”
Dr. Johan van Zyl, hoof van vakkundige dienste by die museum, sê die uitstalling is oor ’n tydperk van vier tot ses maande ontwikkel. Dit het grondige navorsing, die samestelling van ’n geskiedkundige storielyn en die ontwerp van die aanbieding ingesluit.
“Die meeste dokumente, foto’s en voorwerpe wat in die uitstalling gebruik word, kom uit die museum se eie versamelings, terwyl sommige foto’s uit argiewe in die Vrystaat en Transvaal verkry is,” sê Van Zyl.
’n Portret van die koningin. Foto: Charne van der Merwe
Die uitstalling het waarde omdat dit internasionale aandag op Bloemfontein vestig en jonger geslagte bewus maak van Nederland se betrokkenheid tydens die oorlog, meen hy. Dit kan toerisme bevorder, kultuurbande versterk en samewerking tussen die Vrystaat en Nederland aanmoedig.
Besoekers kon onder meer ’n dokumentêre video oor Nederlanders se betrokkenheid by die oorlog besigtig. Een van die uitstalling se opvallendste artikels is ’n gedetailleerde skaalmodel van die Gelderland, die Nederlandse oorlogskip wat deur koningin Wilhelmina na Delagoabaai (nou Maputo) gestuur is om pres. Paul Kruger gedurende die oorlog na Europa te neem.
Die model is deur Jan Linde (88) van Bloemfontein gebou en het meer as 1 200 uur se werk geverg. ’n Portret van koningin Wilhelmina hang bo die glaskas waarin die skip uitgestal word.
“Die historiese band tussen die Vrystaat en Nederland bly vandag steeds sterk en word weerspieël in bekende name soos die Oranjerivier, die Vrystaat en die Oranje-Meisieskool,” sê Van Zyl.
“Ek hoop besoekers sal groter waardering vir dié gedeelde geskiedenis en die moontlikhede vir toekomstige samewerking tussen die twee lande hê.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
