Central SA
Jong weldoener van Bloemfontein wil mense dié winter warm hou─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:38 Mon, 08 Jun 2026
Terwyl die winterkoue die Vrystaat beetpak, glo ’n tienjarige meisie van Bloemfontein geen kind of grootouer behoort sonder ’n warm kombers te slaap nie.
Met dié oortuiging het Ri-ann Kleynhans, ’n leerder aan die Laerskool Bloemfontein wat ook modelwerk doen, haar dit ten doel gestel om ’n verskil in haar gemeenskap te maak. Sy het in Mei vanjaar met ’n kombersinsamelingsprojek begin om hulp te verleen aan mense wat gedurende die winter swaarkry.
Ri-ann is van kleins af betrokke by uitreikaksies en hulpverlening aan behoeftige gesinne. Om ander te help, is volgens haar ’n gawe van Bo. “Ek help altyd waar ek kan.”
Deur haar betrokkenheid by gemeenskapswerk word sy daagliks gekonfronteer met die nood van minderbevoorregte mense, gesinne wat sukkel om kop bo water te hou, kinders wat honger ly en mense wat nie genoeg warm klere of beddegoed het om die winterkoue te trotseer nie.

Ri-ann Kleynhans wil mense wat koud kry help. Foto verskaf
“My grootste inspirasie is my ma, Magda. Sy staan my altyd by en ons bid dat ons ander mense deur moeilike tye kan help,” vertel sy.
Ri-ann het op 16 Mei saam met Guardian and Angel NPO ‘n uitreik gehou waartydens kospakkies, klere en nuwe komberse aan gesinne en kinders uitgedeel is. Die organisasie Guardian and Angel bestaan uit nege groepe in en om Bloemfontein, met meer as 30 gesinne in elke groep.
500 komberse
Sy hoop egter om nog baie meer mense te bereik. Haar droom is om minstens 500 komberse in te samel wat aan mense in nood versprei kan word.
“As ek koud kry, wonder ek hoeveel ander kinders ook koud kry. Dit beteken vir my baie om ander te help. Ek sou hartseer wees as ek nie iemand kon help nie.”
Hoewel sy reeds ’n paar komberse uitgedeel het, sê Ri-ann die insameling vorder stadig en sy benodig dringend ondersteuning om haar doelwit te bereik.
“Op die oomblik sukkel ek om komberse in te kry. Daarom vra ek oral vir hulp.” Sy het al verskeie mense ontmoet wat komberse ontvang en sê die dankbaarheid sal haar vir altyd by bly.
“Dit gee jou ’n knop in die keel en trane in die oë wanneer jy die dankbaarheid op mense se gesig sien. Die dankie-boodskappe wat ons ontvang, bring nog meer blydskap in my hart.”

Ri-ann Kleynhans het 'n sagte plek vir mense wat swaarkry. Foto verskaf
Ri-ann sê sy sou graag wou sien die projek word ’n jaarlikse winterinisiatief sodat nog meer mense gehelp kan word. “Een kombers maak ’n groot verskil. Dit maak een kind se hartjie bly en gee vir hom of haar die geleentheid om warm te slaap.”
Die kombersinsameling duur tot Augustus. Nuwe komberse vir kinders word verkies, maar tweedehandse komberse wat nog in ’n goeie toestand is, word ook met dankbaarheid aanvaar en aan gesinne uitgedeel.
‘Elke kombers maak ’n hartjie bly’
“Ek wil hê die publiek moet weet elke kombers maak ’n hartjie bly. ’n Gelukkige kind beteken ’n gelukkige gemeenskap. Ek glo my projek gaan ’n sukses wees en dat ons met almal se hulp 500, of selfs meer, komberse kan insamel.”
As jy komberse wil skenk bel Magda op 074 376 1646.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

