Central SA
Video van polisievrou wat glo omkoopgeld teruggee, maak opslae─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:10 Mon, 08 Jun 2026
’n Video wat wyd op sosiale media versprei word, wys hoe ’n polisievrou in Gauteng na bewering geld aan ’n motoris terugbesorg tydens ’n woordewisseling.
Die polisie het bevestig die moontlikheid van korrupsie gaan ondersoek word. Die video is Saterdag (6/6) by Diepsloot deur André Snyman van eBlockwatch geneem.
Snyman konfronteer die polisiebeamptes nadat een van sy werknemers glo deur die polisie voorgekeer is en R2 000 omkoopgeld geëis is. Die video wys hoe een beampte om verskoning vra, terwyl ’n ander een ontken dat hy iets van die geld weet. ’n Polisiekonstabel kan later gesien word hoe sy na bewering ’n houer (waarin die geld moontlik is) terugbesorg.
“Ek is ná die voorval in kennis gestel oor wat gebeur het en moes ingryp,” sê Snyman aan OFM Nuus. In die video kritiseer hy ook die magsmisbruik en sê lede wat op sy eBlockwatch-platform geregistreer is, kan hom direk kontak om hulp wanneer hulle in die moeilikheid is.
Die beeldmateriaal het weer openbare woede oor beweerde korrupsie in die polise aangewakker. Baie Suid-Afrikaners is bekommerd oor die sogenaamde koeldrankgeld en aanspreeklikheid binne die polisie.
Die Gautengse polisie bevestig hulle is bewus van die video en sal dit ondersoek.

André Snyman van eBlockwatch. Foto verskaf
“Die betrokke beampte is geïdentifiseer en onmiddellike tugstappe sal gedoen word,” sê kapt. Tintswalo Sibeko, provinisale polisiewoordvoerder.
“Die aanvaarding van omkoopgeld is ’n ernstige misdadige oortreding van die polisie se gedragskode.”
Lt. genl. Tommy Mthombeni, Gautengse provinsiale kommissaris, veroordeel die beweerde gedrag ten sterkste en sê daar sal opgetree word teenoor beamptes wat hul gesag misbruik. Die saak kan ook na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat verwys word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

