Central SA
Bortogaansoek van Noordwes-egpaar se moordverdagtes weer uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:06 Tue, 09 Jun 2026
Die ses beskuldigdes se borgtogaansoek is weer uitgestel. Hulle staan tereg op aanklag van moord nadat hulle ’n egpaar van Noordwes vermoor het.
Olebogeng Mmila (28), Smanga AronSaulo (37), Tebogo Vincent Kolea (31), Gofaone Ronald Sekobe (27), Gaofengwe Sekobe (21) en Clifford Sekobe (34) het Vrydag (5/6) in die Mmabatho-landdroshof verskyn vir die moord op Marlene en Sergio Gomes. Die saak is egter vir ’n derde keer uitgestel, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Hulle moet weer Donderdag (11/6) in die hof wees. Olebogeng Mmila is Vrydag (22/5), byna ’n maand ná die moorde in Magogwe naby Mahikeng in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van moord en die besit van dagga.
Die ander vyf is byna ’n week ná die moorde in hegtenis geneem. Hulle word aangekla van moord, sakeroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Sergio en Marlene Gomes is in hul slaghuis geskiet. Foto: Facebook
Die Gomes-egpaar, eienaars van die Totobola-slaghuis in Golf View, Mahikeng, is op 24 April tydens ’n rooftog by hul onderneming geskiet. Marlene is op die toneel dood, terwyl Sergio ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het, het sers. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Die polisie het gereageer op ’n noodoproep oor ’n skietery in die Golf View-woonbuurt. “Met hul aankoms het beamptes bloedvlekke op die sypaadjie gevind en Marlene se liggaam op die grond gekry,” sê Morake.
“Die egpaar het van hul huis na die slaghuis gejaag nadat hulle inligting ontvang het dat hul seun beroof word. Toe hulle by die perseel aankom, het hulle die rowers by die ingang teëgekom.”
Die verdagtes het glo die slaghuis binnegegaan en die slagoffers gedwing om op die vloer te lê. Klante binne die winkel is ook tydens die voorval beroof.
Die rowers het selfone, kontant, ’n skootrekenaar en die sleutels van ’n Ford Ranger gesteel. Hulle het dit as ’n ontsnappingsvoertuig gebruik.
“Die voertuig is die volgende dag verlate in die Magogwe-nedersetting naby Mahikeng gevind. Van die gesteelde selfone is later in ’n nabygeleë veld ontdek,” sê Myburgh.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

