On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Kathu-vrou oorweeg pleitooreenkoms ná bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:46 Tue, 09 Jun 2026

Kathu-vrou oorweeg pleitooreenkoms ná bedrog | News Article
Amy Mellisa van Heerden. Foto verskaf

Die Noord-Kaapse vrou het glo betalings aan ’n maatskappy na haar persoonlike bankrekening oorgeplaas.

Amy Mellisa van Heerden (30) het Vrydag (5/6) in die Kathu-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal. Die saak is tot 10 Julie vir ’n moontlike pleitooreenkoms uitgestel, sê lt. kol. Tebogo Thebe, Valkewoordvoerder.

Van Heerden is in Februarie deur die Valke in hegtenis geneem. Sy het by Nashua Kathu gewerk en het na bewering die maatskappy se bankbesonderhede verander na haar eie bankrekening.

Nashua Kathu het ’n verlies van meer as R1 miljoen gely. Sy het die dag ná haar inhegtenisneming vir die eerste keer in die hof verskyn en is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

In ’n afsonderlike saak sal nog twee Noord-Kapenaars op 29 Junie weer in die Victoria-Wes-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met pensioenfondsbydraes.

Synthia Levona Itumeleng (45), munisipale bestuurder van Ubuntu in Victoria-Wes, en Randile Jacobs Shuping is op 28 Mei deur Kimberley se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem.

Hulle staan tereg op 28 aanklagte van die oortreding van art. 13A van die Pensioenfondswet, Wet 24 van 1956, sê lt. kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder. 

Werknemers se pensioenbydraes is na bewering oor ’n lang tydperk teruggehou of laat betaal. Dit het tot aansienlike geldelike verliese en opgehoopte rente gelei.

Borgtog  

“Daar word beweer die twee amptenare het van Februarie 2020 tot September 2025 betalings van munisipale werkers se bydraes aan derde partye, insluitend die Gekonsolideerde Aftreefonds, teruggehou of vertraag,” sê Thebe.

Ubuntu se skuld het glo meer as R200 000 beloop. Die uitstaande bedrag is sedertdien verminder tot sowat R100 000 in pensioenfondsbydraes.

Albei beskuldigdes het op die dag van hul inhegtenismening in die hof verskyn. Itumeleng is op borgtog van R5 000 en Shuping van R10 000 vrygelaat.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.