On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Jong vrou van Upington se pynlike, ‘onsigbare’ siekte in remissie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:40 Wed, 10 Jun 2026

Jong vrou van Upington se pynlike, ‘onsigbare’ siekte in remissie | News Article
Marlinze “Linze” Liebenberg se Crohn se siekte is in remissie. Foto verskaf

Vir die eerste keer in meer as 18 maande het sy nie die woorde “ons sien jou weer oor ’n paar weke” gehoor nie.

Hierdie keer was dit anders. Hierdie keer het die dokter gesê: “Ons sien jou dalk oor ’n jaar vir ’n opvolgondersoek.”

Vir Marlinze “Linze” Liebenberg (23), ’n finansiële adviseur van Upington, was dit die einde van ’n uitmergelende stryd van amper twee jaar. ’n Tydperk gekenmerk deur pyn, vyf operasies, ontelbare dae in hospitaalbeddens, baie trane en die voortdurende vrees vir wat die volgende dag mag inhou.

Sy is per lugambulans na die hospitaal vervoer. Foto verskaf

Vir lank het dit gevoel asof die geveg nooit sou eindig nie. Toe stap ’n dokter een dag haar hospitaalkamer binne en sê die woorde wat haar nuwe hoop vir haar lewe sou gee: “Jou siekte is in remissie.”

Dit was die nuus waarvoor sy, haar familie en geliefdes maande lank gebid en gehoop het.

Wat aanvanklik soos ’n gewone mediese probleem gelyk het, het binne dae in ’n nagmerrie verander. Die pyn het vinnig vererger en ná verskeie ondersoeke, doktersbesoeke en hospitalisasies het steeds niemand geweet wat die werklike oorsaak van haar toestand was nie.

Marlinze het vyf operasies ondergaan. Foto verskaf

“Teen daardie tyd het ek gekruip weens die pyn,” vertel sy.

CT-skanderings het later getoon haar derms is met honderde absesse bedek en haar toestand het vinnig versleg. Nadat sy kritiek siek geword het, is sy per lugambulans van Upington na Bloemfontein oorgeplaas vir verdere ondersoeke.

Dáár het spesialiste uiteindelik die antwoord gevind. “Toe ek wakker word ná die prosedure, het die dokter by my bed kom sit en vir my gesê ek het Crohn se siekte,” vertel sy.

Marlinze was vir byna twee jaar in ’n stryd gewikkel teen Crohn se siekte. Foto verskaf

Crohn se siekte is ’n chroniese, inflammatoriese dermkanaalsiekte waar die liggaam se immuunstelsel sy eie spysverteringstelsel aanval. Daar bestaan tans geen genesing daarvoor nie.

Hoewel sy aanvanklik verlig was om uiteindelik antwoorde te hê, het die volle impak van die diagnose eers later ingesink.

‘Ek het werklik gevoel my lewe is verby’

“Ek onthou hoe ek my ma vasgehou het en werklik gevoel het my lewe is verby. Ek was net 21 jaar oud.”

Die daaropvolgende maande sou van die moeilikste van haar lewe wees. Sy moes sterk medikasie, steroïede en immuunonderdrukkers gebruik, gereelde prosedures ondergaan en haar leefstyl drasties verander.

Gluten, suiwel, suiker en verwerkte kosse moes uit haar dieet verdwyn, terwyl stresbeheer ’n noodsaaklike deel van haar behandeling geword het. Daar was ook ’n tydperk wat sy 23 pille per dag gedrink het.

Geen genesing nie

Die fisieke pyn was egter nie haar grootste uitdaging nie.

“Die moeilikste deel van alles was aanvaarding. Nie die pyn of operasies nie, maar die woorde: ‘Daar is geen genesing nie’.”

Daar was tye wat sy gevoel het asof haar toekoms van haar weggeneem is. Sy moes haar werk prysgee, op haar familie staatmaak vir ondersteuning en leer saamleef met ’n siekte wat vir baie mense onsigbaar is.

‘Crohn se siekte is ’n onsigbare siekte’

“Crohn se siekte is ’n onsigbare siekte. Mense sien nie altyd die stryd wat agter die glimlag wegkruip nie,” sê Marlinze.

Haar ouers, haar kêrel en haar mediese span was haar grootste steunpilare. “My kêrel, Michael de Klerk, het ontelbare trane afgevee en elke tree van hierdie pad saam met my gestap.”

Haar geloof het ook ’n belangrike rol gespeel gedurende die donkerste dae van haar siekte. “Ek het besef ek het ’n keuse. Ek kon gaan lê en opgee, of ek kon opstaan, veg en God vertrou.”

Agter die glimlag was baie seer. Foto verskaf

Toe kom die dag wat alles verander het. Sy het Vrydag (5/6) sy op haar hospitaalbed gesit en wag vir die dokter ná nog ’n prosedure.

Ná soveel teleurstellings het sy nie verwag om goeie nuus te hoor nie. Sy het in trane uitgebars toe sy hoor dat haar liggaam geen aktiewe inflammasie toon nie, asook geen aktiewe tekens van Crohns se siekte nie.

Alles is suksesvol verwyder en sy is Saterdag (6/6) uit Bloemfontein Medi Clinic ontslaan.

‘Ek het almal gebel om die nuus te deel’

“Ek het almal gebel om die nuus te deel. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd het dit gevoel asof ek weer kon asemhaal.”

Hoewel sy nie genees is nie, beteken die remissie haar siekte is tans goed onder beheer. “Ek weet ek leef steeds met Crohn se siekte. Maar vandag kies ek om dankbaar te wees.”

Sy moet steeds haar medikasie gebruik, haar dieet streng volg en na haar gesondheid omsien. Die verskil is dat sy nie meer in konstante pyn leef of gereeld operasies hoef te ondergaan nie.

Haar kêrel, Michael, het haar deur die moeilike tye gedra. Foto verskaf

Nou kyk sy weer met hoop na die toekoms. “My droom was nog altyd om ’n suksesvolle prokureur te wees en op te staan teen onreg teen vroue en kinders. Ek begin weer glo dat ek groot mag droom.”

Marlinze het opnuut besef hoe kosbaar die lewe is. Hoe kosbaar tyd saam met familie en vriende is. 

“Ek besef weer hoe kragtig my God is. Hoe sterk geloof is en hoe kragtig gebed is. God is goed.”

En indien sy vandag langs iemand kon sit wat pas dieselfde diagnose ontvang het, sou sy nie noodwendig baie sê nie. 

“Ek sou waarskynlik net hul hand vashou en sê: ‘Ek verstaan’. Want soms maak daardie eenvoudige woorde die grootste verskil in die wêreld.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvdw/mvh

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.