Central SA
Polisie aangeval tydens dwelmklopjag in Bloemfontein─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:29 Wed, 17 Jun 2026
’n Onstuimige teenbende-operasie in Heidedal, Bloemfontein, het gelei tot inhegtenisnemings op aanklagte wat wissel van dwelmhandel tot die aanval op polisiebeamptes en die beskadiging van staatseiendom.
Beamptes van die teenbende-eenheid het vier verdagtes (20 tot 51) in hegtenis geneem ná ’n operasie Dinsdag (16/6) in Joe Slovo. Hulle staan tereg op aanklagte soos dwelmhandel, kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Omstreeks 06:45 het die polisie ’n deursoekingslasbrief uitgevoer by ’n woning in Joe Slovo.
Ernstige beserings vermy
Terwyl die taktiese span probeer het om toegang tot die huis te verkry, het die huiseienaar (45) glo sy Amerikaanse veghonde op twee polisiebeamptes losgelaat. Danksy hul taktiese opleiding kon die beamptes ernstige beserings vermy, sê kapt. Thandi Mbambo, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Tydens die deursoeking het beamptes afgekom op ’n groot hoeveelheid tik en ’n onbekende bedrag kontant, vermoedelik die opbrengs van misdaad. Die operasie het egter ’n drastiese wending geneem nadat die huiseienaar meegedeel is dat hy in hegtenis geneem word.
“Buite het ’n woedende en oproerige skare bymekaargekom en die polisiebeamptes met klippe bestook, wat aansienlike skade aan staatsvoertuie veroorsaak het. Heidedal-polisie is ontbied om ondersteuning te bied.
“Hul voertuig is egter ook met klippe bestook en ernstig beskadig.”
Beamptes moes skarebeheermaatreëls toepas om orde te herstel en hul veiligheid te verseker, sê Mbambo. Om die span veilig uit die gebied te onttrek, moes die teenbende-eenheid skokgranate en rubberkoeëls gebruik om die skare uiteen te jaag.
Die polisie het eindelik die toneel beveilig, die bewyse bewaar en die vier verdagtes veilig in aanhouding geneem. Twee verdagtes, onder wie die huiseienaar en ’n 20-jarige, is binne-in die huis in hegtenis geneem en van dwelmhandel aangekla.
Kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding
Die huiseienaar staan ook tereg op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat hy glo die honde op die polisiebeamptes losgelaat het, sê Mbambo.
Nog twee verdagtes (26 en 51) is in hegtenis geneem op aanklagte van kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding met die opset om ernstig te beseer in verband met die aanval op polisiebeamptes en vangwaens, voeg sy by. Al vier verdagtes sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.
Die Vrystaatse polisiekommissaris, lt.genl. Thabang Lesia, het die aanval op polisiebeamptes en staatsbesit ten sterkste veroordeel. “’n Aanval op die polisie is ’n direkte aanval op die gesag van die staat.

“Ons beamptes waag daagliks hul lewe om ons woonbuurte van gevaarlike dwelms en gewelddadige bendes te bevry.
“Dit is uiters kommerwekkend en heeltemal onaanvaarbaar wanneer lede van gemeenskappe kies om misdaadsindikate te beskerm teen die polisiebeamptes wat hul kinders en gesin probeer beskerm teen die verwoestende gevolge van dwelmverslawing.”
Wetstoepassers sal aanhou om misdaad te bekamp ondanks weerstand van mense wat misdaadnetwerke probeer beskerm, beloof Lesia. Die polisie sal hulle nie sal laat intimideer nie en hul mandaat sonder vrees uitvoer.
OFM Nuus mvh
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
