Central SA
‘Lewe-of-dood’-breinoperasie wag op pa van Virginia─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:36 Wed, 17 Jun 2026
’n Vrystaatse man wat al sedert 2023 vir herhalende breinvliesontsteking en -absesse behandel word, se lewe kan dalk binnekort óf verbeter óf weer in gevaar wees, danksy ’n ingrypende operasie wat op hom wag.
Brandon Kriek (31), bekend as Kriek, ’n inwoner van Virginia, ondergaan einde Junie ’n transorbitale operasie in Kaapstad wat moontlik ’n deurbraak kan wees om sy mediese toestand te stabiliseer. Indien dit nie suksesvol is nie, kan dit die risiko verhoog dat hy weer meningitis ontwikkel.
Kriek se gesondheidsprobleme het in November 2023 begin toe hy kwaai, aanhoudende hoofpyne ontwikkel het wat uiteindelik so hewig geraak het dat hy skaars normaal kon funksioneer.
Sy vrou, Elana, het hom hospitaal toe geneem waar ’n CT-skandering twee breinabsesse geïdentifiseer het. Dit was so groot soos ’n tennisbal en beskryf as lewensgevaarlik. “Dokters het destyds gewaarsku dat indien dit sou bars, dit tot septiese skok en moontlik die dood kon lei,” sê Kriek.

Kriek se gesondheidsprobleme het in November 2023 begin. Foto verskaf.
Hy het talle operasies ondergaan om die absesse te verwyder en is vir sowat elf weke, tot vroeg in 2024, met binneaarse antibiotika behandel. Ná ’n aanvanklike verbetering het sy toestand weer versleg toe ’n breinvloeistoflek ontwikkel het nadat ’n opening in sy skedel ontstaan en die dura (membraam) beskadig is.
Breinvloeistof lek deur neus
Die lek het veroorsaak dat breinvloeistof deur sy neus begin vloei het, ’n toestand wat sy daaglikse lewe erg beïnvloed het, insluitend sy werk as onderwyser. Vloeistof sou onverwags begin lek tydens interaksies met leerlinge in die klaskamer, vertel Kriek.
In 2024 en verlede jaar het verskeie pogings om die lek chirurgies te herstel, waaronder ’n operasie in Kaapstad, nie volhoubare sukses gelewer nie. Ondanks lang herstelperiodes en streng beperkings het die probleem voortgeduur.

Kriek en sy tweelingdogters. Foto verskaf
“My toestand het in November 2025 drasties versleg nadat ek self na Bloemfontein gery en die volgende dag in ’n koma verval het weens ’n kombinasie van staphylococcus meningitis, erge longontsteking en sepsis.” Hy was vir drie dae in die intensiewe sorgeenheid en dokters het sy familie gewaarsku hy sou moontlik nie die nag oorleef nie.
Kriek het egter herstel en beskryf die ervaring as ’n “tweede kans”, hoewel hy steeds met chroniese simptome, moegheid, emosionele trauma en ’n aanhoudende breinvloeistoflek saamleef. Dokters het hom gewaarsku die risiko van herhalende meningitis bly hoog. Een spesialis het selfs opgemerk die vraag is nie meer óf dit weer sal gebeur nie, maar wanneer.

“Die beplande operasie einde Junie behels ’n transorbitale benadering waar chirurge deur die ooglid werk om direk toegang tot die probleemarea in die sinusse te kry,” verduidelik Kriek. “Dit is ’n “lewe-of-dood” prosedure wat daarop gemik is om die lek finaal te sluit en verdere infeksies te voorkom.”
Groot finansiële impak
Ondanks die ernstige mediese uitdagings, sê hy hy glo in herstel en hoop om weer ’n normale lewe te lei as ’n betrokke eggenoot en pa. Sy toestand het reeds ’n groot finansiële impak gelaat, danksy herhaalde operasies, hospitaalverblyf en mediese uitgawes wat tot ’n skuldlas gelei het.
Die ervaring het hom emosioneel en geestelik gevorm, vertel Kriek. Hy beskryf periodes van intense angs en post-traumatiese stres ná die koma, maar ook ’n dieper geloof wat hom versterk.
Sy geloof het hom deur die donkerste tye gedra en gee hom steeds hoop vir die toekoms, sê hy.

'n Lewensgevaarlike operasie wag op Kriek. Foto verskaf
Vir sy familie, veral sy vrou en drie kinders, was die reis uiters swaar. Tydens sy kritieke toestand in 2025 is hulle voorberei op die moontlikheid dat hy nie sou oorleef nie, ’n ervaring wat steeds emosioneel ’n impak het op die gesin.
'Koester elke oomblik'
Die uitdagings wat hy deurleef het, het hom geleer om die lewe opnuut te waardeer en elke oomblik te koester. “Waardeer die lewe, bly afhanklik van geloof en ondersteun mekaar in moeilike tye.”
’n Organisasie sonder winsoogmerk, Hand of Grace and Kindness NPC, het ’n geldinsameling begin om die gesin te help met die koste van die komende operasie. Die veldtog stel mense in staat om R20 per kilometer te skenk. Elke R20-bydrae is een kilometer nader aan hul teikenbedrag.
Chantelle van der Berg, een van die organiseerders van Virginia, sê die doelwit is amper bereik met net 680 km wat nog behaal moet word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

