On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

DNS-toetse bevestig oorskot in krokodil se maag dié van vermiste man

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:26 Wed, 17 Jun 2026

DNS-toetse bevestig oorskot in krokodil se maag dié van vermiste man | News Article
Gabriel Batista. Foto: Facebook

DNS-toetse het bevestig die oorskot wat vroeg in Mei ontdek is binne-in ’n krokodil by Komatipoort, Mpumalanga, is dié van ’n vermiste hoteleienaar.

Gabriel Batista (57) het blykbaar op 28 April probeer om ’n laagwaterbrug oor die Komatirivier in sy Ford Ranger oor te steek toe die voertuig deur die sterk stroom meegesleur is. Hy was die eienaar van die Border Country Inn op Komatipoort, naby die Lebombo-grenspos met Mosambiek.

Batista het gereeld tussen Vanderbijlpark, waar sy gesin woon, en Komatipoort gereis. Hoewel wyd bespiegel is dat die oorskot wat binne-in die krokodil gevind is, syne was, moes die polisie wag op die DNS-uitslag voordat hulle sy identiteit kon bevestig.

Kapt. Pottie Potgieter. Foto verskaf

“Die toetse het nou bevestig dat die oorskot dié van Batista was,” sê kol. Jabu Ndubane, provinsiale polisiewoordvoerder

Kort nadat Batista as vermis aangemeld is, is helikopters en hommeltuie ontplooi in ’n poging om hom op te spoor. Batista, oorspronklik van die Portugese eiland Madeira, het weggeraak nadat swaar reën die Komatirivier laat afkom het. Dit het soekpogings bemoeilik, het Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, voorheen gesê.

“Die gevaarlike toestande het dit byna onmoontlik gemaak vir polisieduikers om die water te betree, wat soekspanne gedwing het om hoofsaaklik op lugwaarneming staat te maak.” Op 2 Mei het ’n byna beweginglose krokodil die aandag van soekspanne getrek.

Kapt. Pottie Potgieter, koördineerder van die polisie se binnelandse waterpolisiëring-en-duikeenheid in Mpumalanga, het gesê die dier het ongewoon gelyk en het skaars beweeg. “Dit het gelyk soos ’n krokodil wat ’n groot maaltyd geëet het. Nadat hulle gevoed het, beweeg krokodille gewoonlik baie min en soek sonlig om met vertering te help.”

Beamptes is toestemming gegee om die reptiel van kant te maak nadat dit opgemerk is sowat 130 m van die punt waar Batista se Ford Ranger in die rivier meegesleur is. Die krokodil van sowat 600 kg is vanuit ’n helikopter geskiet voordat dit uit die water gehaal is.

Joey Potgieter besig om die krokodil oop te sny. Foto verskaf

Potgieter se vrou, Joey, bevelvoerder van die Ehlanzeni-duikeenheid, het die krokodil se maag oopgemaak en menslike oorskot ontdek, insluitend twee arms, ’n gedeelte van die borsvel, ’n nier, lewer, longweefsel, ribbes en ’n deel van ’n ruggraat. Potgieter vermoed die oorskot was ongeveer vier dae in die krokodil.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.