On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Landbousektor hou asem op: Sal Aucamp departement kan hervorm?

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:34 Wed, 17 Jun 2026

Landbousektor hou asem op: Sal Aucamp departement kan hervorm? | News Article
Willie Aucamp, nuwe minister van landbou. Foto verskaf

’n Politieke party sê die landbousektor hou asem op oor die vraag of die nuwe minister van landbou daarin sal slaag om beheer oor sy departement te neem, of deur die departement se uitdagings oorweldig gaan word.

Willie Aucamp is as die nuwe minister van landbou aangestel. Die nuus is Woensdag (17/6) bekendgemaak.

Geordin Hill-Lewis, DA-leier, het ’n versoek aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om Aucamp as landbouminister in die plek van John Steenhuisen aan te stel. Hy sal nou adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging inneem.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor landbou. Foto: VF Plus

Steenhuisen se hantering van die bek-en-klouseerkrisis en die kommunikasie vanuit sy binnekring het daartoe bygedra dat sy posisie onhoudbaar geraak het, sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor landbou.

Die VF Plus meen die groot vraag is nou of die situasie onder die nuwe minister sal verbeter. Die party wys daarop dat Aucamp oor ’n sterker landbou-agtergrond beskik en voorheen op die portefeuljekomitee vir landbou gedien het.

Wat Steenhuisen egter gekelder het, was nie in die eerste plek sy gebrek aan landboukennis nie, maar sy onvermoë om sy departement se sentraliserende instinkte te tem, sê Boshoff. “Toe hy die staat se rol moes verskraal ten gunste van die private sektor, het hy onder leiding van senior amptenare die teenoorgestelde gedoen.

“As ’n minister sy onbevoegde departement steun in hul poging om alleenbeheer oor ’n ramp te behou, strydig met sy eie vorige beleidsuitsprake, is sy doppie as't ware geklink. Dit is presies die toets wat nou vir Aucamp voorlê.”

Die VF Plus wens Aucamp gelukmet sy aanstelling en sterkte met die uitdagings wat op hom wag.

Dit is egter nie die enigste verandering wat Hill-Lewis aan die DA se kabinetskoukus maak nie.

Geordin Hill-Lewis, DA-leier. Foto: DA

David Maynier sal die rol van minister van bosbou, visserye en die omgewing aanvaar. Alexandra Abrahams word adjunkminister van elektrisiteit en energie, en Yusuf Cassim, ’n lid van die portefeuljekomitee oor hoër onderwys met ’n agtergrond in studentepolitiek, sal dien as adjunkminister van hoër onderwys en opleiding.

Jack Bloom, die langsdienende lid van die Gautengse provinsiale wetgewer en ’n voorstander van goeie regering, sal adjunkminister van water en sanitasie word.

“Hierdie aanstellings weerspieël die waardes van die DA in aksie: verantwoordbaarheid, hoë prestasiestandaarde en ’n verbintenis om Suid-Afrikaners te dien,” sê Hill-Lewis.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.