Central SA
VF Plus eis dringende ingryping ná vier sterftes op Noord-Kaapse paaie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:36 Thu, 18 Jun 2026
Dringende en daadwerklike ingryping is nodig om padveiligheid in die Noord-Kaap te verbeter nadat twee afsonderlike ongelukke die afgelope naweek die lewens van vier mense geëis het.
Die VF Plus sê die provinsie kan dit nie bekostig dat soortgelyke tragedies aanhou plaasvind terwyl voorkomende veiligheidsmaatreëls uitbly nie. Die oproep volg ná die noodlottige skoolbusbotsing op die N14 naby Kathu waarin ’n onderwyseres, Ilze Posthumus (30), dood is.
Enkele dae tevore het drie brandweerlede – Tshepo Salafia Mokhutsane (42) van Kuruman, Kgotso Andre Thakadu (32) en Baleseng Patric Masilo (43) van Taung in Noordwes – Vrydagaand buite Kuruman in ’n botsing gesterf terwyl hulle op ’n veldbrand gereageer het.

Baleseng Patric Masilo. Foto verskaf
“Die tragedie beklemtoon weer eens die dringende behoefte aan sterker padveiligheidsmaatreëls op die provinsie se hoofvervoerweë,” sê Theo Joubert, Noord-Kaapse VF Plus-wetgewerlid.
Die groot volume swaar voertuie wat, weens die mynbedryf, die provinsie se paaie gebruik, plaas toenemende druk op die infrastruktuur, sê hy.

Die ongelukstoneel. Foto verskaf
“Die verantwoordelikheid om padveiligheid te verseker, bly in die eerste plek die departement van vervoer, veiligheid en skakeling s’n – saam met ander betrokke agentskappe.”
Die tyd vir reaktiewe optrede is verby.
“Die departement behoort voortdurende risiko-ontledings van hoëverkeersroetes soos die N14, N12 en R31 te doen, die handhawing van verkeersreëls te versterk, voldoende rus- en noodstaangeriewe vir vragmotors te verseker, en te monitor of bestaande padinfrastruktuur steeds geskik is vir die volume swaar voertuigverkeer wat dit gebruik.”

Tshepo Salafia Mokhutsane. Foto verskaf
Die provinsiale regering moet nie slegs ongelukke ondersoek nadat lewens verloor is nie, maar ook voorkomende maatreëls instel om verdere tragedies te voorkom. Hy meen mynboumaatskappye moet ook verantwoordelike vennote wees deur padinfrastruktuur te help onderhou en saam te werk om die risiko’s van swaar vragvervoer te verminder.
Die VF Plus gaan Limakatso Koloi, LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling, versoek om volledig verslag te doen oor vragmotorverwante ongelukke in die provinsie, die huidige veiligheidsmaatreëls op hoërisikoroetes, en die samewerking tussen die departement, padowerhede en die mynbedryf.

Kgotso Andre Thakadu. Foto verskaf
“Hierdie tragedie moet ’n keerpunt wees. Die mense van die Noord-Kaap verdien paaie waarop leerders, opvoeders, werkers en gesinne veilig kan reis.
“Padveiligheid vereis beplanning, handhawing en politieke wil – en nie bloot ondersoeke nadat nóg ’n lewe verlore is nie,” sê Joubert.
OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066487 1427.

