Central SA
Klein ore tussen die mielies: Milo ná ses dae gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 21:58 Fri, 19 Jun 2026
’n Bostonterriër is ongedeerd gevind ses dae ná ’n motorongeluk waarin sy eienaar oorlede is.
Milo was Donderdag (11/6) saam met sy eienaar, Lucinda van den Berg, in ’n ongeluk op die R70 tussen Ventersburg en Senekal. Die voertuig het gerol en Van den Berg is op die toneel dood verklaar.
Milo het die ongeluk oorleef, maar was ná die ongeluk nêrens te vinde nie. Hy het vermoedelik in die chaos weggehardloop. Lucinda se dood kom slegs ’n maand nadat haar man, Piet, aan ’n hartaanval oorlede is.

Lucinda en Piet van den Berg. Foto verskaf
Die gesin is binne ’n kort tyd deur twee groot tragedies getref, sê Chantelle van den Berg, ’n vriendin. “Ons het hom ses dae lank gesoek. Plakkate is oral versprei, sosiale media het ontplof en die hele gemeenskap het hande gevat om hom op te spoor.”
Boere, plaaswerkers en inwoners het saamgespan in ’n grootskaalse soektog oor die landbougebiede rondom Ventersburg. “Dit het gevoel soos ’n gebed wat almal saam bid,” sê Chantelle.

Milo en Lindie Mans. Foto verskaf
Die deurbraak het gekom toe ’n boer wat besig was om te oes sowat 25 km buite Ventersburg in die rigting van Kroonstad beweging tussen die mielies opmerk.
“Milo het weer tussen die lande verdwyn, maar toe sy naam geroep word, het sy klein bostonterriër-ore bo die plante uitgesteek,” sê sy.
“Hy het deur ysige Vrystaatse winternagte geswerf, maar hy het nooit opgegee nie.” Vir haar is Milo se terugkeer meer as net ’n merkwaardige oorlewingsverhaal. “God het geweet hoe nodig hierdie hondjie vir Lindi is.”

Lucinda en Piet van den Berg saam met hul geliefde hond, Milo. Foto verskaf
Milo gaan nou by Lindi, Lucinda se dogter, woon. Hy het oorspronklik aan Lindi behoort en is een van haar hond se kleintjies. “Milo is weer waar hy hoort.”
Van der Bergh bedank die gemeenskap en almal wat gehelp soek en gebid het vir Milo se veilige terugkeer. “Julle was deel van sy pad huis toe. Dít is wat hoop regtig beteken.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

