Central SA
Betaal wat geskuld word – DA soek antwoorde oor departementele wanbetaling─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:55 Sat, 20 Jun 2026
Met munisipaliteite wat reeds onder finansiële druk verkeer en kragonderbrekings wat dreig, eis ’n party in die Noord-Kaap antwoorde oor die provinsiale regering se versuim om miljoene rand se munisipale rekeninge betyds te betaal.
Die DA versoek ’n gesamentlike komiteevergadering moet dringend gehou word om die voortslepende probleem van departementele wanbetaling aan te pak. Die doel is om volhoubare oplossings te vind vir ’n krisis wat die finansiële stabiliteit van munisipaliteite toenemend bedreig, sê Gizella Opperman, LPW en DA Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder vir samewerkende regering.
Hoewel die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke sowat R111 miljoen ontvang het om uitstaande munisipale rekeninge te betaal, word die totale skuldlas op meer as R300 miljoen geraam. Die omvang van die tekort is deur Fufe Makatong, LUR vir die department, tydens die begrotingsdebat uitgewys,
“Ons kan nie aanhou om minder as R3 te betaal vir elke R10 wat geskuld word nie. Munisipaliteite sit reeds met kontanttekorte en die impak van hierdie wanbetaling word uiteindelik deur inwoners gevoel,” sê Opperman.

Fufe Makatong. Foto: Facebook
Die departement beweer die probleem is weens begrotingstekorte. Terwyl provinsiale inkomste oor die volgende drie jaar na verwagting met gemiddeld 5,1% sal groei, styg munisipale tariewe teen ’n veel hoër tempo. Nersa het byvoorbeeld elektrisiteitstariefverhogings van 9% goedgekeur.
“Hoewel die departement nie noodwendig hierdie kostedruk veroorsaak nie, bly dit verantwoordelik vir die betaling van sy rekeninge. Elke verbruiker moet betyds en ten volle betaal vir dienste wat gelewer word, veral staatsdepartemente wat grootmaatverbruikers van water en elektrisiteit is,” sê Opperman.
Volhoubare finansiële plan
Die DA meen die departement, die provinsiale tesourie en die premierskantoor, moet dringend ’n volhoubare finansiële plan ontwikkel om die toenemende skuldlas te bestuur en verdere druk op munisipaliteite te voorkom.
Die party eis terugvoering oor die inwerkingstelling van Eskom se skuldverligtingsprogram. Van die 16 Noord-Kaapse munisipaliteite wat aanvanklik vir die program gekwalifiseer het, is drie reeds uitgeskop weens die versuim om aan die streng voorwaardes en vereistes te voldoen.
“Die doel van die skuldverligtingsprogram was om munisipaliteite ’n geleentheid te gee om finansieel te herstel. Wanneer munisipaliteite egter uit die program geskop word, wek dit ernstige kommer oor hul toekomstige finansiële volhoubaarheid,” sê sy.
Volgens beskikbare inligting oorskry die agterstallige skuld van Renosterberg en Kai !Garib aan Eskom reeds R1,196 miljard. Hoewel die opskorting van hul deelname aan die program verstaanbaar mag wees, dui dit op die erns van die finansiële uitdagings waarmee sekere munisipaliteite gekonfronteer word.
“Hierdie situasie laat ook ernstige vrae ontstaan oor die rol van die provinsiale tesourie. Waarom is die waarskuwingstekens nie betyds raakgesien nie, en waarom is daar nie vroeër ingegryp om hierdie uitkoms te voorkom nie?” vra Opperman.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

