Central SA
Drie sterf, een steeds vermis ná boot omslaan op Vaalrivier─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:18 Sat, 20 Jun 2026
Drie liggame is in die Vaalrivier by Douglas uitgehaal nadat vier mense na bewering verdrink het toe ’n boot omgeslaan het.
Die Noord-Kaapse polisie se soek-en-reddingseenheid het die liggame Vrydag (19/6) gevind. Die oorledenes is twee vroue (35 en 40) en ’n man (55).
Daar word nog na ’n vierde persoon gesoek, sê ao Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder. Die ongeluk het Donderdag gebeur toe ’n boot na bewering mense oor die Vaalrivier van die Vaallus-plaas na die Olierivier-plaas vervoer het.
“Die polisie het omstreeks 06:30 ’n verslag oor die ongeluk ontvang. Daar was ongeveer 20 mense aan boord en van hulle het in die water geval.” Veertien mense het oorleef en is in ’n hospitaal op Douglas behandel.
Veiligheidsmaatreëls
- Mense moet vermy om onveilige of nie-goedgekeurde bote te gebruik, veral tydelike vaartuie wat nie behoorlik toegerus of gesertifiseer is om passasiers te vervoer nie.
- Moenie te veel mense op die boot toelaat nie om te voorkom dat dit omslaan.
- Passasiers moet altyd reddingsbaadjies op die boot aanhê – al is dit net ’n kort afstand.
- Verdrinkings kan voorkom word as die regte toerusting gebruik word.
- Rivieroorgange moet slegs by aangewese, veilige punte gedoen word waar toestande gemonitor en gereguleer word. Sterk strome kan onvoorspelbaar en uiters gevaarlik wees.
- Passasiers moet ook nie onnodig in ’n boot staan of rondbeweeg nie.
- Gemeenskappe word aangemoedig om onveilige vervoerpraktyke op riviere aan plaaslike owerhede te rapporteer om soortgelyke tragedies te help voorkom.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

