On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Yvette
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Krugerwildtuin: Gids kry borgtog wat glo toeris noodlottig wond

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:04 Sat, 20 Jun 2026

Krugerwildtuin: Gids kry borgtog wat glo toeris noodlottig wond | News Article
Goodman Nkosi. Foto verskaf

'n Toergids wat daarvan aangekla word dat hy ’n Kanadese toeris tydens ’n bosbraai in die Krugerwildtuin doodgeskiet het, is op borgtog vrygelaat.

Goodman Sthembiso Nkosi (36) het Vrydag (19/6) in die Masoyi-landdroshof verskyn. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en die nalatige hantering van ’n vuurwapen, sê Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder.

‘n Kanadese burger Yat Wing Albert Lam (69) is Woensdagaand (17/6)  tydens ’n bosbraai noodlottig gewond. Die voorval het by ’n piekniekplek naby die Phabeni-hek plaasgevind waar ’n groep internasionale besoekers bymekaargekom het vir ’n geleentheid wat deur ’n private toerismemaatskappy georganiseer is.

“Lam het na bewering die gids genader en gevra of sy vuurwapen ’n regte een is. Die gids het gewys hoe die vuurwapen werk toe die skoot afgegaan het. Lam is in die bolyf getref en is op die toneel dood verklaar,” sê Nyuswa.

Die gids, wat in diens is van die maatskappy wat die geleentheid gereël het, is ná die voorval in hegtenis geneem. Die saak is tot 1 September vir verdere ondersoek en uitstaande ballistiese verslae uitgestel.

Die voorval volg minder as ’n maand nadat die egpaar Ernst (71) en Dina Marais (73) van Mosselbaai op 20 Mei by Crooks Corner in die noordooste van die Krugerwildtuin vermoor en hul bakkie gesteel is.

Toeriste het twee dae later op die egpaar se liggame op die oewer van die Limpoporivier afgekom. Ernst se verkyker was steeds om sy nek, terwyl sy horlosie van sy arm verwyder is, maar nog in sy linkerhand was.

Tragedie in Wildtuin: Minister sê ‘Kruger sal nie sy onskuld verloor nie | News Article

Ernst en Dina Marais van Mosselbaai. Foto verskaf

’n Deurbraak in die ondersoek is op 26 Mei gemaak toe die polisie in samewerking met owerhede in Mosambiek, die egpaar se gesteelde dubbelkajuit-Ford Ranger in die Chókwè-gebied in die suide van Mosambiek opgespoor het. Die gebied is sowat 350 km van Pafuri in die Krugerwildtuin geleë.

Drie verdagtes is sedertdien in verband met die moorde in hegtenis geneem. Die jongste verdagte, Macandze Lionel da Marta (26), ’n Mosambiekse burger, is op Vrydag (13/6) in Zimbabwe aangekeer. 

Die ander twee verdagtes (32 en 33) is op 1 en 2 Junie in Mosambiek in hegtenis geneem. Hul identiteit is nog nie bekend gemaak nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.