On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

OVK: Meer as 330 000 kiesers registreer op eerste dag van registrasienaweek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:01 Sun, 21 Jun 2026

OVK: Meer as 330 000 kiesers registreer op eerste dag van registrasienaweek | News Article
Kiesers kan enige tyd aanlyn hul besonderhede bywerk. Foto: Polity

Die nasionale kiesersregistrasienaweek het goed begin met honderdduisende Suid-Afrikaners wat reeds op die eerste dag hul registrasiebesonderhede laat opdateer of as nuwe kiesers geregistreer het.

Teen 12:00 Saterdag (20/6) het die Verkiesingskommissie (OVK) reeds sowat 330 000 registrasieaansoeke landwyd ontvang en verwerk. Masego Sheburi, adjunkhoofkiesbeampte, het dit op ’n mediakonferensie by die OVK-hoofkantoor in Centurion bevestig.

Ongeveer 300 000 van dié aansoeke is by 23 706 stemlokale oor die land heen met behulp van kiesersbestuurstoestelle gedoen, terwyl 30 000 registrasies op die OVK se aanlyn registrasieplatform ontvang is.

Sheburi sê kiesers kan enige tyd aanlyn hul besonderhede bywerk. “Gebruikers wat tegniese probleme op die platform ondervind kan later weer probeer. Die diens sal ná afloop van die registrasienaweek steeds beskikbaar wees.”

In sekere gebiede was daar betogings en kon die registrasie nie betyds begin nie. Ondanks hierdie uitdagings het die registrasieproses goed verloop.

Die OVK het vroeër die week bekend gemaak daar is sowat 28 miljoen geregistreerde kiesers op die huidige kiesersrol. Die syfer daal maandeliks met ongeveer 34 000 weens sterftes, maar die getalle neem steeds toe. In die verkiesing in 2024 was daar 27,7 miljoen mense op die kiesersrol. 

Die OVK beskryf die aanlyn registrasieplatform as ’n belangrike hulpmiddel om die kiesersrol uit te brei en meer mense by die demokratiese proses te betrek.

Masego Sheburi. Foto: OVK

Vir die plaaslike verkiesings op 4 November beklemtoon die OVK die belangrikheid dat kiesers hul adres- en kontakbesonderhede nagaan. Korrekte adresinligting verseker kiesers word aan die regte wyk toegeken. Dit is noodsaaklik vir ’n vrye en regverdige verkiesing.

Gedurende die twee dae lange registrasieveldtog is altesaam 23 706 stemlokale beskikbaar. Dit sluit in 22 718 permanente stemlokale, 960 tydelike registrasiepunte en 28 mobiele eenhede wat afgeleë gemeenskappe bedien. 

KwaZulu-Natal het 5 021 registrasiepunte, die Oos-Kaap 4 984. Limpopo 3 317, Gauteng 2 832, Mpumalanga 1 846, Noordwes 1 730, die Wes-Kaap 1 623, die Vrystaat 1 614 en die Noord-Kaap 739.

‘Toegang vir alle kiesers’

“Die wye verspreiding van registrasiepunte is om toegang vir alle kiesers te verseker, deelname te bevorder en die registrasieproses so inklusief moontlik te maak,” sê Sheburi.

Kiesers wat nog nie geregistreer het nie of wat hul besonderhede wil bywerk, kan dit Sondag (21/6) tot 17:00 by hul naaste registrasiepunt doen.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.