On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Skouspel toe Sherman Firefly-tenk Ficksburg toe geneem word

───   SUSAN MARÉ 13:04 Mon, 22 Jun 2026

Skouspel toe Sherman Firefly-tenk Ficksburg toe geneem word | News Article
Dié Sherman-tenk het ’n nuwe tuiste in die Oos-Vrystaat gekry. Foto verskaf

’n Sherman Firefly-tenk, glo net een van sy soort in Suid-Afrika, is van Bethlehem na Sandstone Estates naby Ficksburg geneem.

Dit was ’n skouspel toe die tenk wat ongeveer 53.3 metrieke ton (of ongeveer 34.7 imperiale ton) Donderdag (18/6) deur hysers opgelig en op ’n swaar vragmotor gelaai is. Die tenk sal by Sandstone Estates deur kundiges gerestoureer word.

Die tenk was sedert omstreeks 1953 ’n baken van die woonbuurt Eureka teen ’n steil koppie, waar dit by die Springbok Redoubt Shellhole se saal uitgestal is, die tuiste van Bethlehem se Memorable Order of Tin Hats (Moths). 

JP Lees, die Old Bill van die Shellhole op Bethlehem, sê dit sal herstel word sodat dit ’n loop- en rybare artefak kan wees. “Die tenk is relatief volledig met sy Chrysler-enjin en die interne kontroles, maar het dekades lank onder verwaarloosing en skade gely.


“Vandale het al in die tenk geklim, daar geslaap en selfs vuur gemaak. Die bekende baken is nou wel vir Bethlehem verlore, maar ek glo dit is in die beste belang van hierdie historiese tenk.

“Restourasie beteken hy gaan weer loop en brul. Die idee is onder ons wakker gemaak, baie soos die verhaal van Doringrosie, om uit die as op te staan en skares weer eens te beïndruk.”

Net sowat ses tot tien van hierdie geskiedkundige M4 Sherman-tenks het in Suid-Afrika oorgebly as museumstukke of gedenkwaardighede. Bekende liggings van die M4 Shermans is die SA Pantsermuseum in Bloemfontein en Sandstone Estates, wat reeds ’n werkende Mk IV het wat volledig opgeknap is en steeds tydens feeste rondry. Die Bethlehemse M4 Sherman is ’n groot aanwins vir die landgoed.

Die tenk is met hysers op ’n vragmotor gelaai en na sy nuwe tuiste vervoer. Foto verskaf

Daar is ook tenks in Pretoria (Pretoria Regiment, Salvokop), by die Dickie Fritz Moths Shellhole in Edenvale, en by die Nasionale Museum vir Militêre Geskiedenis in Johannesburg.

Suid-Afrika het hierdie tenks hoofsaaklik in die Tweede Wêreldoorlog in Italië gebruik as deel van die 6de Suid-Afrikaanse Pantserdivisie. Die weermag se huidige tenk-inventaris bestaan uitsluitlik uit die tuisgemaakte Olifant Mk 1B- en Mk 2-tenks.

Die SA Pantserdivisie het van 1944 tot 1945 met honderde Sherman-tenks gelyktydig geveg. ’n Volledig geallieerde pantserdivisie van daardie tydperk het tipies oor ’n sterkte van sowat 250 tot 300 tenks beskik, hoofsaaklik Shermans.


Weens gevegsverliese en vervangings het die totale getal Shermans wat Suid-Afrikaners met verloop van die oorlog in Italië ingespan het, selfs tot honderd meer beloop.

Die regimente van Suid-Afrika wat in Italië geveg het, was die Pretoria Regiment (PR), Prince Alfred’s Guard (PAG) en die Special Service Battalion (SSB). Elke regiment het uit sowat 50 tot 60 tenks op die slagveld beskik, verdeel in verskillende eskadrons.

Die tenk wat in Bethlehem gehuisves was, is ’n M4 Sherman Firefly. Ander tenks wat staatmakers van die Suid-Afrikaners was, was die hoogs betroubare Sherman V (M4A4), wat toegerus was met ’n 75 mm-kanon.

Dit was geen maklike taak nie om die tenk na sy nuwe tuiste te skuif. Foto verskaf

Die Sherman Firefly was die Geallieerdes se geheime wapen teen die swaar Duitse Tiger- en Panther-tenks. Die Britte het die Sherman aangepas met ’n geweldig kragtige 17-ponder-kanon (76,2 mm). Tipies was daar een Firefly vir elke drie of vier standaard-Shermans in ’n troep om vuurkrag teen swaar teikens te verskaf.

Gevra waarom die tenk van Bethlehem af geneem is, sê Lees die tenk het oor dekades baie skade gely as gevolg van elemente en vandalisme. Die luike moes selfs vantevore vasgesweis word om te verhoed dat mense daarin slaap en rommel agterlaat.

“Die Sandstone Heritage Museum beskik oor die kundigheid, werkswinkels en hulpbronne om hierdie geskiedkundige voertuie professioneel te herstel.

“Die Moths op Bethlehem, wat in 1928 gestig is, se honderdste bestaansjaarvierings kom nader. Die doel is om die spogvoertuig tot sy volle glorie te vertoon met dié vierings. Moths se honderdste bestaansjaar word nasionaal in 1927 gevier.

“Sandstone Estates het ’n wêreldklas-versameling van historiese militêre en stommasjinerie. Hy het reeds voorheen ’n eie Sherman-tenk suksesvol gerestoureer sodat dit selfs weer onder sy eie krag kan ry.

“Alhoewel die baken verlore is, glo ek dit is in die beste belang van hierdie historiese tenk. ’n Ander historiese militêre item wat meer geskik is, sal geskenk of verkry word, maar ja, ons as inwoners van Eureka-woonbuurt sal moet berus dat die ou Sherman nie meer die buurt sal bewaak nie. Hopelik is die Sherman binne ’n jaar of twee ’n loop- en rybare militêre artefak.”

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.