Central SA
Hof hoor van beweerde obsessie en noodlottige nag wat tot vrou se dood lei─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:32 Tue, 23 Jun 2026
’n Voormalige polisiesersant wat daarvan beskuldig word dat hy sy eksmeisie doodgeskiet het, se verhoor hervat op 28 September nadat dae lank getuienis oor die gebeure aangehoor is.
Mandlenkosi Gladman Buthelezi (43) en sy medebeskuldigde, Llewellyn Meyers (36), het op al die aanklagte skuld ontken. Albei was voorheen verbonde aan die Eldoradopark-polisiekantoor en is ná die voorval geskors, sê Magaboke Mohlatlole, Gautengse NVG-woordvoerder.
Hulle staan tereg in verband met die dood van Chesnay Keppler (22), ’n voormalige provinsiale teenmisdaadbeampte wat in die vroeë oggendure van 26 Desember 2024 by ’n huis in Eldoradopark doodgeskiet is.
Buthelezi word aangekla van moord, poging tot ontvoering, aanranding, kwaadwillige saakbeskadiging en regsverydeling. Meyers staan tereg op aanklagte van regsverydeling, aanranding en ander aanklagte wat met die voorval verband hou.

Chesnay Patricia Keppler is in 2024 vermoor. Foto verskaf
Tydens die verhoor van 8 tot 12 Junie in die hooggeregshof in Johannesburg het Klepper se niggie Malique Jacobs getuig Buthelezi het die aand van die voorval saam met Meyers in ’n polisievangwa by die huis in Eldoradopark opgedaag.
Hy het Keppler glo buite die huis gekonfronteer, haar met die plat hand geslaan, aan haar hare gegryp en haar gesleep terwyl Keppler glo gesê het hy maak haar seer. Buthelezi het haar na bewering probeer dwing om in die polisievangwa te klim.
’n Familielid het die voertuigsleutels uit die aansitter gehaal, waarna Keppler saam met twee ander vroue die huis ingevlug het. Buthelezi het daarna aan die voordeur gehamer en probeer om toegang tot die huis te kry, het Jacobs getuig.

Mandlenkosi Buthelezi en Llewellyn Meyers in die hof. Foto: Facebook/Lindo updates
Hy het na die kombuisvenster beweeg nadat hy nie toegang tot die huis kon kry nie. Die vroue het na ’n agterste vertrek gehardloop nadat hulle gewaarsku is dat Buthelezi moontlik sy vuurwapen gaan haal het.
Keppler was besig om die kombuisvenster toe te maak toe vier of vyf skote deur die venster afgevuur is. Keppler het in Jacobs se arms inmekaargesak.
Elgin Goliath, wat aan die begin van ’n verhouding met Keppler was, het in die hof getuig Buthelezi het hom vroeër die aand gewaarsku om van Keppler weg te bly en gevra: “Wat maak jy met my vrou?”
Regter Sanet van Aswegen het tydens die verrigtinge vrae aan die getuies gestel oor die aard van Keppler en Buthelezi se verhouding. Hy het haar glo gereeld werk toe geneem, hulle het saam ’n motor gekoop en hy glo op die dag van die voorval haar motorsleutels en selfoon in sy besit gehad.
‘Buthelezi ontken die bewerings’
Tydens kruisondervraging het die verdediging verskeie getuies se weergawes betwis en op teenstrydighede in hul verklarings gewys. Die verdediging het in die hof gesê Buthelezi ontken die bewerings teen hom en hy het nie beplan dat Keppler sou sterf nie. Die verdediging het ook aangevoer Meyers word onregverdig by die voorval betrek, sê Mohlatlole.
Gerugte het die ronde gedoen hy het Keppler voorheen mishandel. Hy is ook glo by korrupte bedrywighede betrokke, het Dereleen James, ActionSA-LP, vroeër beweer.
OFM Nuus dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

