Central SA
Vaalrivier-tragedie: Soektog duur voort na vermiste plaaswerker─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:36 Tue, 23 Jun 2026
Die soektog gaan voort na ’n plaaswerker wat steeds vermis word nadat ’n tuisgemaakte boot in die Vaalrivier naby Douglas omgeslaan en verskeie mense dood is
Die Noord-Kaapse provinsiale soek-en-reddingseenheid het Dinsdag (23/6) sy soektog voortgesit. Vyf van die ses vermiste persone se liggame is reeds gevind.
Die oorledenes wat tot dusver geïdentifiseer is, is Landi Madjan (35), Neels Boom (59), Trooi Olivier (41) en Hans George (55). Die identiteit van die vyfde slagoffer is nog nie bekend gemaak nie, sê sers. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Vyf van die ses vermiste liggame is reeds gevind. Foto SAPD
Twee van die plaaswerkers wat oorlede is, was van Malawië. Die soek-en-reddingspanne is Donderdag (18/6) omstreeks 06:30 ontbied ná berigte van ’n tuisgemaakte boot wat plaaswerkers oor die rivier vervoer het, omgeslaan het.
Daar was glo sowat 20 werkers aan boord ten tyde van die voorval. Die vaartuig het daagliks ongeveer 18 plaaswerkers oor die rivier vervoer. Daar word vermoed twee ekstra mense was Donderdag aan boord wat moontlik daartoe bygedra het dat die boot omgeslaan het.
Veertien mense het die voorval oorleef en is na die hospitaal op Douglas geneem vir behandeling. Shemane sê die boot word gereeld deur plaaswerkers gebruik.
Twee liggame is op die dag van die voorval gevind, terwyl nog twee liggame Vrydag (19/6) en ’n vyfde liggaam Saterdag uit die water gehaal is.
“Soekpogings Sondag (21/6) het geen resultate opgelewer nie, met operasies wat weens reën gestaak is. Spanne sal na verwagting die soektog by Vaallus-plaas by Douglas hervat wanneer weerstoestande dit toelaat,” sê Shemane.
“Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek en die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.”
OFM Nuus sm dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

