On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Staaltafel eis kleuter van Vaaldriehoek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:37 Tue, 23 Jun 2026

 Staaltafel eis kleuter van Vaaldriehoek | News Article
Mense drom saam buite die huis waar die fratsongeluk gebeur het. Foto verskaf

Niks kon Pierre Wheeler voorberei op die hartverskeurende toneel van ’n vierjarige se fratsdood.

’n Gesin van die Vaaldriehoek se wêreld het Saterdag (20/6) in ’n oogwink verander nadat ’n kleuter op slag dood is toe ’n swaar staaltafel op hom geval het. Die seuntjie en ’n buurmaatjie het glo op die tafel gespeel toe die noodlottige ongeluk gebeur het, sê Wheeler, woordvoerder van die Frontline of Hope-bediening in die Vaaldriehoek.

Die bediening is deur die ER24-nooddiens versoek om die toneel te besoek waar die familie erg getraumatiseer is deur die verlies. “Die seuntjie en ’n meisie het blykbaar by die tafel gespeel,” sê Wheeler.

“Een van hulle het op die tafel geklim. Dit is ’n staaltafel wat vir werk soos sweiswerk gebruik word. Die pote het wieletjies aan, maar een van die pote was stukkend. Toe die kind op die tafelblad by die beskadigde poot trap, het die tafel gekantel en op die seuntjie geval.”

Traumatiese toneel

Hy het op sy maag gelê toe die tafel hom agter sy nek getref het. Hoewel daar geen sigbare beserings was nie, het die geweldige impak ’n noodlottige nekbesering veroorsaak.

Teen die tyd dat die Frontline of Hope-span by die huis opgedaag het, was ’n ander kapelaan reeds op die toneel om die jong meisie (7) wat die ongeluk aanskou het, weg te neem en emosioneel te ondersteun.

“Ons het gehelp om die kind toe te maak en ’n menslike skild gevorm toe die forensiese patologiediens die oorskot verwyder het, sodat die familie gespaar kon word van die traumatiese toneel.”

Volgens Wheeler is dit juis sulke oomblikke wat ’n mens sonder woorde laat, oomblikke waarin ’n gesin se lewe binne sekondes onherroeplik verander.

“Vandag is ons na ’n toneel ontbied waar ’n jong kind sy lewe verloor het – veel te vroeg en heeltemal onverwags. Vanaand is daar ’n kamer wat stil sal bly. ’n Bed waarin daar nie geslaap sal word nie. ’n Gesin wat probeer sin maak van ’n verlies wat geen ouer ooit behoort te ervaar nie,” skryf Wheeler net ná die ongeluk op Facebook.

“Ons het nie altyd antwoorde vir oomblikke soos hierdie nie. Wat ons wel kan bied, is ons teenwoordigheid – om daar te wees, ondersteuning te bied en saam met gesinne deur hul donkerste ure te stap. Die Here is naby die gebrokenes van hart en Hy help dié wie se gees verpletter is.” (Psalm 34:18)

Hy doen ’n beroep op mense om die familie en almal wat die kind liefgehad het, in hul gebede te hou. Frontline of Hope het ook hul dank teenoor ER24 uitgespreek omdat die diens volgens hulle uit hul pad gegaan het om die familie by te staan en traumaberading te reël.

OFM Nuus

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.