Central SA
Upington-ma voer stryd teen seldsame maagkanker─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:34 Thu, 25 Jun 2026
Dit breek sy hart om sy dogter so te sien ly terwyl sy daagliks teen ’n lewensbedreigende siekte veg.
Awie Crossberg sê sy gesin klou vas aan hoop terwyl sy dogter, Marinda Theunissen (42) van Upington, behandeling ontvang vir gevorderde maagkanker. Die uitdagings wat voorlê, plaas ’n groot emosionele en finansiële las op die gesin.
Antrale adenokarsinoom is ná maande van erge buikpyn, naarheid en onverklaarbare gewigsverlies by Marinda, ’n ma van drie kinders (16, 8 en 6), gediagnoseer. Dokters het later ’n groot gewas in haar maag ontdek, naby die opening na die dunderm, wat so gegroei het dat dit haar spysvertering ernstig blokkeer het, vertel Crossberg.
Luidens mediese verslae, insluitend ’n CT-skandering, het die kanker ’n gastrojejunale obstruksie veroorsaak en word klein nodules rondom die gewasgebied vermoed, wat kommer wek oor moontlike plaaslike verspreiding. Dokters sal egter eers ná verdere chemoterapie en opvolgskanderings die volle omvang van die siekte kan bevestig.

Marinda by haar man, Coenraad, en broer, Awie. Foto verskaf
Die CT-skandering het ook ’n klein letsel bo in haar linkerlong, ’n klein pleurale effusie, en ’n nierletsel wat nog verder ondersoek moet word, uitgewys. “Tot dusver is daar egter geen duidelike wydverspreide metastases in die bors of buik bevestig nie. ’n Biopsie van die baarmoeder is ook nog hangende nadat vroeëre skanderings moontlike abnormaliteite getoon het,” sê Crossberg.
Die diagnose het gevolg ná ’n gastroskopie op 17 April, waarna sy dringend in Bloemfontein se Universitas-hospitaal geopereer is. Omdat die gewas nie veilig verwyder kon word nie, het chirurge ’n alternatiewe opening tussen die maag en dunderm geskep sodat kos weer kon deurgaan.
“Sy kon nie behoorlik eet of drink nie. Haar maag moes gereeld gepomp word net om die druk en pyn te verlig.”

Marinda en Awie in die hospitaal. Foto verskaf
Marinda begin binnekort met ses beplande chemoterapie-sessies. Ná drie sessies sal die dokters weer skanderings doen om te bepaal of die gewas genoegsaam gekrimp het vir ’n operasie om ’n deel van haar maag te verwyder.
“Indien dit suksesvol is, sal chirurgie volg, waarna sy steeds verdere chemoterapie sal moet ontvang om enige oorblywende kankerselle te behandel,” sê haar pa. Dokters het ook ’n moontlike histerektomie aanbeveel, afhangende van die uitslae van verdere biopsies en opvolgskanderings.
Terwyl die familie hoopvol bly, is die pad vorentoe medies kompleks en finansieel oorweldigend.

Marinda en haar drie kinders. Foto verskaf
Elke reis van Upington na Bloemfontein is meer as 1 200 km heen en weer, plus bykomende koste vir verblyf, medikasie en gespesialiseerde voeding. Die gesin skat hul maandelikse uitgawes beloop sowat R10 000, met minstens R40 000 wat nog nodig is om behandeling, vervoer en herstelkoste te dek.
Marinda se man werk ver van die huis in die mynbedryf, terwyl sy tuis na hul drie kinders omsien. Om haar behandeling te ondersteun, gebruik die familie ook alternatiewe ondersteunende terapieë saam met voorgeskrewe behandeling om haar die beste moontlike kans op herstel te gee.
Ten spyte van die uitdagings, sê Crossberg, is hulle is vasbeslote om nie moed op te gee nie. “Skenkings en gemeenskapsteun het reeds gehelp om ’n deel van die koste te dek, maar die finansiële druk bly swaar terwyl verdere chemoterapie en mediese prosedures nog voorlê,” sê Awie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

