Central SA
Prieska-ongeluk eis vier, man vrygelaat op borg─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:40 Fri, 26 Jun 2026
’n Noord-Kapenaar, wat daarvan beskuldig word dat hy verantwoordelik is vir die dood van vier mense in ’n motorongeluk, is op borgtog vrygelaat.
Kervin Stander (30) kom na verwagting weer Maandag (29/6) voor in die landdroshof op Prieska. Hy het Maandag (22/6) vir die eerste keer in die hof verskyn toe hy op borgtog van R500 vrygelaat is.
Stander word aangekla van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, bestuur van ’n motorvoertuig onder die invloed van drank, asook bestuur sonder ’n geldige rybewys, sê sers. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die ongeluk het Saterdag (20/6) omstreeks 08:45 op die R357 tussen Douglas en Prieska plaasgevind, sowat 5 km buite Prieska. ‘n Bestuurder (30) het na bewering beheer oor die voertuig verloor, waarna dit die pad verlaat en gerol het,” sê Shemane.

Jacqueline Malo en Magdeline Pinky van Wyk asook Van Wyk se twee seuntjies, Kelviano en Elvino, is oorlede. Foto Facebook
Die oorledenes is Jacqueline Malo (ouderdom onbekend), Kelviano Keldino van Wyk (7) en Dirk Elvino van Wyk (2). ’n Vierde slagoffer, Magdeline Pinky van Wyk (29), het Sondag in ’n hospitaal in Kimberley aan haar beserings beswyk.
Die Hoërskool Prieska het in ’n Facebook-plasing hul medelye met Kelviano se familie uitgespreek. “Dit is met groot hartseer dat ons bekend maak dat Kelviano van Wyk tragies in ’n motorongeluk oorlede is. Kelviano se glimlag, onskuld en vreugde sal altyd in ons harte voortleef,” lui die inskrywing.
Die skool het verder sy meegevoel met sy ouers, familie en geliefdes betuig en Psalm 34:19 aangehaal: Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.
Nog twee insittendes, Jordan Malo (8) en Standen Bostander (20), is ook beseer. Albei beseerdes moes behandeling vir geringe beserings ontvang.
Die ondersoek duur voort. Geen begrafnisreëlings is nog bekend gemaak nie.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

