On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse man gaan vra vir borgtog ná vermeende lemoendief se skietdood

───   ZENANDE MPAME 09:35 Sun, 28 Jun 2026

Noord-Kaapse man gaan vra vir borgtog ná vermeende lemoendief se skietdood  | News Article
Alvano Gundry (24) is na bewering by ’n huis op Delportshoop geskiet. Foto verskaf

Dié man (60) van Delportshoop sal in die Barkly-Wes-landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen. Hy word van die moord op ’n jong man aangekla.

Jacques Raath staan tereg ná die dood van Alvano Gundry (24) wat na bewering Dinsdag (23/6) by ’n huis op die dorp geskiet is.

Lt.kol. Thabo Litabe, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sê Gundry en sy vriende het glo lemoene by die huis gesteel toe die skietery plaasgevind het.

Raath het Donderdag die eerste keer in die landdroshof op Delportshoop verskyn voordat die saak na die Barkly-Wes-landdroshof vir sy formele borgtogaansoek oorgeplaas is. Hy sal Vrydag (3/7) in dié hof verskyn.


“Die polisie het hom onmiddellik in hegtenis geneem. Die omstandighede van die noodlottige skietvoorval word nog ondersoek,” sê Litabe. 

Die voorval het spanning en verdeeldheid op die klein dorpie veroorsaak.

DFA berig die gemeenskap beweer Gundry wat in die nabygeleë Rooikoppies-gebied gebly het, en nog ’n man het glo deur ’n gat in die heining geklim voordat die huiseienaar ’n skoot deur ’n venster afgevuur het.

Die polisie het beslag gelê op verskeie vuurwapens as deel van die ondersoek. Van die bure sê daar is baie voorvalle van huisbraak en betreding in die gebied en baie huise word gereeld deur misdadigers geteiken. Van die inwoners meen Raath het gereageer omdat hy die groep mans op sy eiendom opgemerk het.


Richard Springbok, familielid en ANC-wykraadslid, het die skietery veroordeel en sê Gundry se optrede het nie die verlies van sy lewe regverdig nie.

“Gundry is koelbloedig doodgeskiet. Hy (Raath) kon ’n waarskuwingskoot afgevuur of sy honde uitgelaat het. Niemand moet vir die steel van lemoene doodgemaak word nie.

“Ons keur nie goed wat hy gedoen het nie, maar dit gee niemand die reg om ’n lewe te neem nie.”

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.