On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Getuie in moordkomplot-saak: ‘Ek het eers saamgespeel, toe polisie genader’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Tue, 30 Jun 2026

Getuie in moordkomplot-saak: ‘Ek het eers saamgespeel, toe polisie genader’ | News Article
Anelle de Bruin in die hof. Foto Charne van der Merwe

Hy sou aanvanklik saamwerk met plan, maar het toe later die polisie genader.

So het ’n sleutelgetuie in ’n verhoor oor ’n beweerde moordkomplot in die streekhof op Aliwal-Noord getuig. Die beskuldigde, Anelle de Bruin, het Maandag (29/6) in dié hof verskyn op ’n aanklag van sameswering om haar vervreemde man, Johan de Bruin, te laat vermoor. Die egpaar is intussen geskei.

Die beweerde aanval, wat glo na ’n plaasaanval moes lyk, sou op 9 Januarie verlede jaar plaasgevind het.

Jan Wolf

Die staat se eerste getuie, Petrus Johannes van Schalkwyk, ook bekend as “Jan Wolf”, het getuig dat die beskuldigde hom op 4 Januarie gekontak het nadat sy glo baie ontsteld was oor ’n voorval tussen haar en haar man.

Hulle ken mekaar al sowat vier jaar en het ’n vriendskap sowel as ’n sakeverhouding gehad. Van Schalkwyk kry kruie uit die berge wat glo help vir kanker en hulle sou glo ’n 50/50-sakeooreenkoms oor die verkoop daarvan aangegaan het. 

‘Sy is moeg vir haar man’

Hulle het glo meermale ontmoet by ’n gastehuis in Lady Grey waar sy gewerk het om die beweerde aanval te bespreek. De Bruin het glo gesê sy is moeg vir haar man en dit sou beter wees as hy dood is. 

Hy het aanvanklik aan die gesprekke deelgeneem en gesê hy sal help om glo “beheer oor die situasie te kry”, omdat hy gehoop het sy sou kalmeer en nie verder gaan met die plan nie.

Die getuie het ook beweer sy het hom via WhatsApp bly kontak en het aangedring om met die beweerde plan voort te gaan. Sy het glo gedreig om iemand anders te kry of om weer haar man te probeer vergiftig indien dit nie uitgevoer word nie. 

De Bruin het glo ’n paar jaar gelede probeer om Johan te vergiftig, maar het na bewering berou gekry en die ambulans ontbied. Hy het toe die polisie genader nadat hy besef het dat hy nie in staat was om die situasie alleen te hanteer nie.

Johan en Anelle de Bruin. Foto: Facebook

Daar is ook glo ’n video wat by die gastehuis gemaak is, waar net De Bruin se hande en voete sigbaar is terwyl sy na bewering gedetailleerde instruksies gee oor hoe die aanval uitgevoer moes word.

Die video wat Van Schalkwyk sonder De Bruin se medewete gemaak het, is in die hof gewys. Dit moes soos ’n plaasaanval lyk en haar man moes deur ’n slaapkamer se glasdeur geskiet word terwyl hy op die bed lê. 

Die jagters se voertuie se bande en enige werkers of hindernisse op die plaas moet ook geskiet word om ’n aanvalstoneel te skep.

‘R4 400 as deposito ontvang’

Van Schalkwyk was nooit self op die plaas nie, maar het foto’s ontvang wat die uitleg van die huis en die ligging van kameras van die reaksie-eenheid wys. Daar was ook nie vooraf ’n vaste bedrag bespreek nie, maar hy het wel R4 400 as ’n deposito ontvang, met die oorblywende betaling wat glo sou volg ná die man se dood.

Die polisie het op ’n wenk gereageer en De Bruin en Van Schalkwyk is hegtenis geneem. Sy is aanvanklik borgtog van R2 000 toegestaan nadat sy nege dae in aanhouding was.

Die verdediging, adv. Allen Simpson, het beswaar gemaak dat die getuie moontlik die beskuldigde in ’n lokval gelei het deur saam te speel met die gesprekke. Hy het daarna verwys as uitlokking om ’n misdaad te pleeg.

Die saak is uitgestel tot Dinsdag (30/6). Van Schalkwyk sal na verwagting deur die verdediging gekruisondervra word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.