On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Busongelukke in Noord-Kaap, Limpopo: Een dood en tien beseer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:09 Wed, 01 Jul 2026

Busongelukke in Noord-Kaap, Limpopo: Een dood en tien beseer | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Motoriste word gemaan om versigtig te wees en te verseker hul voertuie is padwaardig voordat hulle langafstandritte aanpak.

Drie mense is Dinsdag (1/7) in ’n busongeluk in die Noord-Kaap beseer. Die ongeluk het omstreeks 08:40 plaasgevind, ongeveer 19 km van Hanover op pad na Colesberg.

’n Vyftiensitplek minibus-taxi wat van Kaapstad na Mosambiek onderweg was, het omgeslaan nadat ’n sleepwa na bewering ’n meganiese fout opgedoen het, sê brig. Mashay Gamieldien, provinsiale polisiewoordvoerder.

Ses kinders

“Daar was 20 passasiers in die minibus-taxi, onder wie 14 volwassenes en ses kinders tussen die ouderdomme van vyf en sewe.”

Gamieldien sê die drie beseerde passasiers het geringe beserings opgedoen en is op die toneel deur nooddienste behandel. Geen sterftes is aangemeld nie. 

Sommige passasiers was in besit van geldige reisdokumente, terwyl ander nie was nie. Die saak is na immigrasiebeamptes van binnelandse verwys vir verdere hantering.

Twee busongelukke het binne 24 uur plaasgevind. Foto iStock

Die Grensbestuursowerheid betuig sy meegevoel met die familie van ’n busbestuurder wat sy lewe in ’n ander busongeluk naby Beitbrug verloor het. Die bestuurder het 65 buitelandse burgers van Durban na Musina vervoer vir repatriasie toe die ongeluk Dinsdag (30/6) gebeur.

“Namens die grensbestuursowerheid betuig ek ons opregte meegevoel aan die familie, vriende en kollegas van die oorlede bestuurder gedurende hierdie moeilike tyd. Ons wens ook die beseerde passasiers ’n volle en spoedige herstel toe en bedank alle nooddienste en wetstoepassingsbeamptes wat vinnig opgetree het om hulp op die toneel te verleen,” sê genl.maj. David Chilembe, waarnemende kommissaris. 

Sewe passasiers is beseer. Hulle is op die toneel deur nooddienste behandel voordat hulle na die hospitaal geneem is vir verdere behandeling.

Chilembe sê die grensowerheid sal steeds nou saamwerk met alle betrokke owerhede om die voortgesette reaksie te ondersteun en die veilige voortsetting van die repatriasieproses te fasiliteer.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.