On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Klein Zelnay vind rus ná jare lange kankerlyding

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:09 Fri, 03 Jul 2026

Klein Zelnay vind rus ná jare lange kankerlyding | News Article
Zelnay was ’n klein vegter. Foto verskaf

’n Meisie van die Oos-Rand kan eindelik rus nadat sy lank aan ’n aggressiewe vorm van leukemie gely het.

Zelnay Liebenberg (9) van Brakpan is Donderdag (2/7) 00:10 oorlede ná ’n stryd van meer as ’n jaar teen akute limfoblastiese leukemie (ALL). Die kanker het onlangs aggressief teruggekeer en haar liggaam het nie meer op chemoterapie reageer nie.

Zelnay se vlakke het Woensdag (29/6) getuimel en sy moes bloed en bloedplaatjies ontvang het. Twee tande wat haar baie gepla het, moes ook getrek word, terwyl medikasie deur ’n drup toegedien is om te voorkom dat sy te veel bloei, sê haar ma, Zanelle.

Die dokters was ook bekommerd oor hoe vinnig Zelnay se toestand binne slegs ’n week verswak het nadat daar op 18 Junie bevestig is dat die kankerselle teruggekeer het en geen verdere behandelings beskikbaar is nie.

Zelnay se toestand het die laaste week baie verslag. Foto verskaf

Haar liggaam het nie langer op die chemoterapie gereageer nie, en die terugvalle het mekaar te vinnig opgevolg. Omdat die kanker nie in remissie was nie, kon die mediese span nie met die beenmurgoorplanting of immunoterapie voortgaan nie. Verdere chemoterapie was ook nie meer ’n veilige of haalbare opsie vir haar nie.

Haar familie het daarna die moeilike besluit geneem om haar huis toe te neem, waar sy haar laaste dae omring deur haar geliefdes en met baie liefde kon deurbring.

‘Klop my hartjie nog?’ vra meisie (9) ná behandeling nie meer help nie | News Article

Zelnay Liebenberg. Foto verskaf

Nadat die familie hierdie hartverskeurende nuus ontvang het, is besluit om vir Zelnay ’n wenslysie te maak, maar daar was ook kommer of sy nog teen die einde van Julie sterk genoeg sou wees vir ’n vakansie wat saam met Reach for a Dream beplan is.

Haar wenslysie was onder meer ’n besoek aan Gold Reef City, ’n gesinsvakansie, ’n Build-A-Bear-ervaring, nuwe klere en skoene, ’n hotelverblyf saam met haar familie, ’n spa-dag en ’n ontmoeting met sanger Dirk van der Westhuizen. Sy het ook gedroom van eenvoudige vreugdes soos ’n springmieliemasjien, ’n slushie-masjien, haar eie televisie en die versameling van Dumpling Squishies.

ALL, ’n vinniggroeiende kanker van die bloed en beenmurg, is in April verlede jaar by haar gediagnoseer nadat sy in Maart ongesteld geraak het. Sy het sedertdien verskeie rondes chemoterapie, hospitaalopnames, bloedoortappings en komplikasies ná infeksies verduur.

Haar familie het in April vanjaar dringend probeer om R3 miljoen vir immunoterapie in te samel, terwyl hulle ook ondersoek ingestel het of haar jonger broer, Lihan, ’n geskikte beenmurgskenker kon wees. Die behandeling kon egter slegs voortgaan indien Zelnay se kanker in remissie was.

“Die ondersteuning wat Zelnay en haar familie ontvang het, het gewys hoeveel harte sy gedurende haar dapper stryd geraak het,” sê Karin Harmse van Arms of Mercy wat gehelp het met Zelnay se wenslysie.

Zelnay word Woensdag (8/7) om 12:00 by die AGS iLumen in Boksburg gegroet.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.