On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Eeu van trots: Warrenton-skool vier 100 jaar

───   SUSAN MARÉ 12:15 Fri, 03 Jul 2026

Eeu van trots: Warrenton-skool vier 100 jaar | News Article
Leerlinge vergader saam met onderwysers voor die hoofgebou. Foto verskaf

Die eeufeesviering van ’n Noord-Kaapse skool beloof om sewe opwindende dae van samesyn te wees.

Die Laerskool Warrenton vier hierdie mylpaal van 14 tot 20 September. Die feesprogram is nie net ’n geskiedkundige viering nie, maar beloof ook vreugdevolle samesyn.

Dié landboudorp, met ’n ryk diamant- en besproeingsgeskiedenis, is aan die oewer van die Vaalrivier sowat 70 km noord van Kimberley in die ooste van die Noord-Kaap geleë. Sy ontstaan word verbind met die diamantvelde van Kimberley en die behoefte aan vars landbouprodukte.

Grasbult

Die dorp is op die plaas Grasbult, wat al in 1878 deur boere geregistreer is, gebou. In 1880 is die dorp na sir Charles Warren, ’n Britse landmeter, vernoem.

In dieselfde jaar het boere die westelike deel van Grasbult gekoop met die doel om die vrugbare grond te besproei en groente vir mynwerkers in Kimberley te kweek.


Die bestaande Laerskool Warrenton en die Hoërskool Warrenton is die oudste skole op die dorp. In 2026 is daar ook ander skole in die gemeenskap wat van betekenis is.

Nathan Greeff, onderwyser aan die skool en feeskoördineerder, sê die personeel en leerders is opgewonde oor die eeufeesviering.

“Die feesprogram bied ’n wye verskeidenheid. Ons sien baie daarna uit en hoop mense van heinde en ver kom spesiaal na Warrenton om deel te wees van hierdie samesyn.

“Ons nooi alle oudleerders of oudinwoners wat ’n verbintenis met die skool het uit om met ons kontak te maak. As van hulle die fees kan bywoon, sal dit wonderlik wees. Die skool met sy leuse, Werk en Wen, het ’n trotse geskiedenis.”

OFM Nuus het ook met oudleerling Marlesé Erasmus van Bloemfontein oor haar herinnering aan die Laerskool Warrenton gesels. Sy sê die laerskool het ’n groot impak op haar lewe gehad. Sy het haar skoolloopbaan in 1984 hier begin en was later in gr. 7 onderhoofmeisie.

“Vir my was die Laerskool Warrenton ’n tweede huis waar ek baie tyd spandeer het. Ek het aan alles deelgeneem. Ek onthou onderwysers wat my geïnspireer en my lewe gehelp vorm het.”


“Ek onthou die pragtige skoolgebou, massiewe ou bome op die pragtige terrein en ’n sinkskuurtjie waar leerlinge hul fietse kon parkeer. Dit was ’n veilige omgewing waar kinders net kind kon wees maar ook, net soos stadskinders, groot kon droom. Hier was ‘it takes a village’ nie net ’n sê-ding nie.

“Ouers, onderwysers, besighede en leerlinge – ’n hele dorp het saamgewerk om vir elke kind ’n grondslag te gee vir ’n blink toekoms. Dit is dan my hoop vir die Laerskool Warrenton dat dit na 100 jaar steeds die pilare is waarop hierdie skool staan.”

Feesprogram

Die weeklange feesprogram begin op Maandag 14 September om 12:00 met ’n opmars deur die dorp. Die jonger leerders sal as trompoppies op ’n vlot staan en die ouer leerders sal langs die roete blikskud.

Terug by die skool wag daar vir hulle verversings en later, om 17:00, ’n biergeselligheid vir genooides, oudleerders en personeel.

Dag twee is gelaai met daglange aktiwiteite soos die neem van amptelike eeufeesfoto’s van leerders, klasse en personeel. Dit is ’n opedag vir oudleerders wat die skool wil besoek.

Almal smul aan die verjaardagkoek om 100 jaar te vier. Foto verskaf

Entrepreneurs sal die dag ook inkleur met ’n verskeidenheid stalletjies waaraan pryse vir die bestes gekoppel is. Later volg ’n biertuin waar kos te koop is en ’n fliekaand in die hoërskool se saal vir leerders en hul gesinne.

Nog is dit nie die einde nie. Op Woensdag 16 Mei van 14:00 af word ’n kultuur- en geskiedenisuitstalling deur die leerders aangebied. Van 12:00 tot 14:00 is daar vir genooide besonderse gaste, ouers en lede van die gemeenskap, ’n High Tea-geleentheid. Dit word aangebied deur die leerlinge van gr. 6 en gr. 7.

Kevin Boraine, skoolhoof. Foto verskaf

Van die skool se sportmemorabilia, geskenkte artikels, kunswerke en aandenkings sal op Donderdag 17 September om 12:00 opgeveil word. Uitnodigings sal gerig word aan oudleerders en ander belanghebbendes. Die aand word ’n smullekker ete met Noord-Kaapse biefstuk aangebied waarvoor kaartjies te koop is.

Saterdag is gholfdag. ’n Eeufees-gholfdag word op Jan Kempdorp se gholfbaan aangebied met ’n prysuitdeling daarna.

Die weeklange fees word op Sondag 19 September van 09:00 tot 11:00 met ’n gedenkdiens in die NG kerk Warrenton afgesluit.

Bekendes van die dorp

Warrenton het oor die jare bekendes en presteerders opgelewer wat oral in Suid-Afrika hul skoene vol staan. Onder hulle is die sanger Janita Claassen (1947-2005), die kunstenaar Gordon Vorster (1924-1988) en die dominee en skrywer Barend Vos.

Claassen was veral bekend vir sangtreffers soos Rolbos en Meisiekind. Haar pa het in die omliggende Vaalharts-distrik geboer voordat die gesin later na Vereeniging verhuis het.

Nathan Greeff, feeskoördineerder. Foto verskaf

Vorster was ’n gevierde Suid-Afrikaanse skilder, draaiboekskrywer, regisseur en akteur. Sy bekende landskapskilderye is geïnspireer deur sy vroeë kinderjare wat hy hier en in die diamantvelde deurgebring het.

Vos was ’n ouddominee van die NG kerk Warrenton. Hoewel hy nie daar grootgeword het nie, het hy bekendheid verwerf met sy Grootseun-rubrieke in die tydskrif LiG. Hierdie rubrieke is grootliks op sy ervarings as plattelandse predikant op Warrenton gegrond.

Kevin Boraine is die skoolhoof van die laerskool. Van hom word op die jaarlikse Baasdag op die sosiale media geskryf: “Om mense te bestuur is ’n kuns wat net die beste leiers kan bereik. 

“Meneer inspireer ons met alles wat Meneer doen. Gelukkige Baasdag!”

OFM Nuus/Susan Maré sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.