Central SA
Vermeende moordenaar van Chubby Chick-broers het glo kanker─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:33 Fri, 03 Jul 2026
Kanker is glo gediagnoseer by die man wat teregstaan op aanklagte van die moord op twee Potchefstroomse sakeman-broers.
Robert Joubert (75) het nie Woensdag (1/7) in die streekhof in die universiteitstad verskyn nie. Hy was by die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks vir ’n onkologiese ondersoek, sê Johan le Grange, prokureur vir die Fourie-familie.
Joubert word daarvan aangekla dat hy Johnathan Fourie (52) en sy broer, Deon (55), direkteure van Chubby Chick in Potchefstroom, op 10 November in die hoenderonderneming se raadsaal geskiet het.
Johnathan is op die toneel dood; Deon het ’n maand later aan sy beserings beswyk. Die veiligheidswag het Joubert glo in albei arms geskiet. Dié wonde het glo steeds nie genees nie. Hy het ook ’n vergroeisel bo sy linkeroog waarvoor hy na bewering kankerbehandeling kry. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord en een aanklag van poging tot moord.

Intussen eis die Fouries se naasbestaandes antwoorde van die NVG nadat die hof op 10 Junie ’n dringende aansoek toegestaan het dat Joubert teen 17 Junie na ’n privaat hospitaal oorgeplaas mag word vir spesialis- ortopediese en psigiatriese behandeling.
Die aansoek is deur Joubert se broer, Joshua, gebring. Ingevolge die hofbevel is versoek dat Joubert van die Potchefstroom-korrektiewe sentrum na die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria oorgeplaas word. Hy het glo onlangs ’n operasie ondergaan en sterk tans aan in die hospitaalafdeling van die Klerksdorp-korrektiewe sentrum.
Die hof het gelas alle mediese koste moet privaat bestry word, asook die redelike koste verbonde aan sy vervoer, aanhouding, toesig en veiligheidsmaatreëls tydens sy verblyf in die hospitaal.

Johnathan en Deon Fourie. Foto’s: Facebook
Die Fourie-familie meen egter die belange van die slagoffers is misken. In ’n brief het Le Grange gesê die familie is geskok en ontsteld nadat die NVG aangedui het dat hulle by die hof se beslissing sou berus en nie die aansoek sou teenstaan nie.
Kragtens die hofbevel mag Joubert vir vier weke, of so lank as wat die medici dit redelik nodig ag, in die hospitaal vertoef. Hy moet egter deurentyd onder wettige aanhouding en toesig bly. Die hospitaal moet ook minstens 48 uur voor sy opname skriftelik bevestig dat die nodige veiligheidsmaatreëls in plek is.

Deon (links) en Johnathan Fourie saam met hul pa, John. Foto: Verskaf
Die hof het voorts beklemtoon die bevel kom nie neer op Joubert se vrylating uit aanhouding nie en dat dit ook nie die strafregtelike verrigtinge teen hom opskort of vertraag nie.
Joubert moet weer op 1 September in die hof verskyn, sê kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
