Central SA
Vroue en rugby: Bloemfonteiner verban stereotipes een duikslag op ’n slag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:10 Fri, 03 Jul 2026
Rugby word beskou as ’n fisieke en harde sport waar min mense verwag om jong vroue op die veld te sien.
Maar vir ’n 21-jarige van Bloemfontein is dit presies waar sy haar plek gevind het. Tussen die duikslae, die intensiteit van die spel en drome wat veel verder strek as die plaaslike veld.
Angelique Strydom, ’n derdejaarstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, sê rugby was nog altyd deel van haar lewe. “Ek het vandat ek kan onthou van rugby gehou. Ek het van kleins af rugby gekyk en saam met my broer gespeel, so dit was nog altyd een van my grootste passies.”
Hoewel sy eers op 17 begin rugby speel het, het sy eers vanaf 18 amptelike wedstryde begin speel. “My gesin en vriende het my nog altyd ondersteun omdat hulle weet hoe baie ek dit geniet,” sê sy.

Vrystaat teen Boland in 2025 by SUT se veld. Foto verskaf
Vandag speel sy vir die UFS-vrouespan, die Wolverines, sowel as die senior Vrystaat-span, die Cheetahs. “My hoofposisie is skrumskakel (9), maar ek speel soms ook losskakel (10) of heelagter (15).”
Dit is nie altyd maklik om as vrou in die sport te speel nie, sê sy, omdat dit steeds as ’n mansport gesien word, veral in Suid-Afrika. “Ek praat gereeld met mense wat voel dat vrouens nie rugby moet speel nie. Dit laat jou soms voel asof jy jouself heeltyd moet bewys.”
Die spel word ook anders beoordeel wanneer vrouens speel, en foute word dikwels toegeskryf aan vooroordele soos: “Ja, sy is ’n vrou, dis hoekom.”
“Maar aan die einde van die dag wil ons net die sport doen waarvoor ons lief is,” sê Angelique.

In 2023 in die First Division by die Toyota Stadion in Bloemfontein. Foto verskaf
Wat sy die meeste geniet, is die spanomgewing. “Dis ’n spansport en dit is baie lekker om dit met spanmaats te deel. Dis lekker om saam te wen en vriende te maak.”
Een van haar trotsste oomblikke was om die Cheetahs te verteenwoordig in nasionale kompetisies. “Ek is altyd trots om die Cheetahs te verteenwoordig in die Pick n Pay Super League 1. Dit was ook spesiaal om in 2023 die First Division te wen en na die Premier Liga op te skuif.”
Black Ferns
Sy is ’n groot aanhanger van Nieu-Seeland en kan nie presies onthou wanneer of hoe sy begin het om hulle te ondersteun nie, maar sy geniet dit eenvoudig om hulle te sien speel. “Ek is ook mal oor die Black Ferns – dit was die eerste keer dat ek gesien het vroue kan ook rugby speel.”
Haar gunstelingspeler is Jorja Miller. “Sy doen alles goed, sy verdedig, sy hardloop sterk en sy is vinnig en rats,” sê Angelique. Sy kyk ook op na Will Jordan, Antoine Dupont, Cam Roigard en Grant Williams.

Die UFS Wolverines by die 2025 USSA rugby. Foto verskaf
’n Tipiese week bestaan uit drie tot vier oefensessies en verskeie gimsessies. “Dit is soms moeilik om alles te balanseer,” sê sy. “Jy voel gereeld asof iets moet agterbly, maar ek probeer my akademie eerste hou wanneer dit nodig is.”
Gelukkig het sy nog nie ernstige beserings opgedoen nie. “Die moeilikste deel is eerder die tyd wat jy opoffer en die dinge wat jy mis.”
Een van haar grootste drome is om eendag professioneel rugby te speel en internasionaal te speel. “Oorsee klubrugby sal ook baie lekker wees.” Sy wil ook haar studie gebruik om in geografie en geomorfologie te werk.
Vir jong meisies wat onseker is of bang is hulle word geoordeel, sê sy: “Jy sal nie weet of jy daarvan hou as jy dit nie probeer nie. Moenie dat mense jou keer nie.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

