On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Meeste maselsgevalle in Vrystaat aangemeld

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:36 Tue, 07 Jul 2026

Meeste maselsgevalle in Vrystaat aangemeld | News Article
Masels onder jong kinders versprei baie vinnig. Foto: iStock

Die departement van gesondheid het maatreëls verskerp om inenting teen masels te verbeter nadat laboratoriumbevestigde gevalle landwyd aangemeld is.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het op ’n parlementêre vraag van DA-LP Michéle Clarke gereageer. Die departement beoog om op nasionale en provinsiale vlak saam te werk sodat die teiken van inentings tot 95% verhoog kan word.

Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NIOS) bevestig van 29 Desember 2025 tot 21 Junie vanjaar is 2 476 laboratoriumbevestigde maselsgevalle landwyd aangemeld.

In die Vrystaat is die meeste nuwe gevalle aangeteken, naamlik 132, gevolg deur die Wes-Kaap (58), Gauteng (46), die Noord-Kaap (44), Limpopo (36), Mpumalanga (28), die Oos-Kaap (20), KwaZulu-Natal (ses) en Noordwes (vier).

Inentingsveldtog teen masels in Noord-Kaap begin | News Article

Die meeste nuwe maselsgvalle is in die Vrystaat anagemeld. Foto: Infection Control Today

Die meeste gevalle is kinders tussen een en 14 jaar oud – 1 749 gevalle of 70,6%. Sowat 437 bevestigde gevalle is ouer as 15 jaar.

NIOS sê die toename in ouer ouderdomsgroepe is omdat masels steeds in gemeenskappe versprei en moontlik weens immuniteitsgapings.

Hoewel sporadiese gevalle ook in gebiede voorkom waar kinders ingeënt is, is uitbrekings meer waarskynlik waar baie kinders nie ingeënt is nie, of slegs een van die twee aanbevole dosisse ontvang het.

Vermy direkte kontak met mense wat masels het. Foto: iStock

Motsoaledi sê die departement fokus op distrikte waar inentings baie laag is. Besonderhede van die distriksgesondheidsinligtingstelsel word gebruik om kinders te identifiseer wat nie ingeënt is, of nie volledig ingeënt is nie.

Hy sê klinieke moet seker maak hulle het voldoende entstowwe beskikbaar.

“Die departement ondersteun provinsies ook deur die Big Catch-Up-inisiatief wat daarop gemik is om kinders op te spoor wat sedert 2022 nie inentings gekry het nie. Hulle wil ook kinders in afgeleë of onderbediende gemeenskappe bereik,” sê Motsoaledi.

In Limpopo moet planne beraam word om inentings in te haal, kinders op te spoor wat nie ingeënt is nie en gemeenskappe beter in te lig oor masels en die voorraad van entstowwe te monitor.

Voorkoming van masels

  • Laat jou en jou kinders met die MMR-entstof inent – dit is die doeltreffendste beskerming.
  • Maak seker kinders ontvang albei aanbevole dosisse van die entstof.
  • Vermy direkte kontak met mense wat masels of enige simptome het.
  • Was jou hande gereeld en bedek jou mond en neus wanneer jy hoes of nies.
  • Bly tuis as jy simptome van masels ontwikkel en kontak ’n gesondheidswerker voordat jy ’n kliniek of hospitaal besoek.

Die MMR-entstof is ’n kombinasie-inspuiting wat lewenslange immuniteit bied teen drie hoogs aansteeklike virussiektes: masels, pampoentjies en Duitse masels (rubella).

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.