Central SA
Parys-gemeenskap help gesinne herbou ná noodlottige brand─── ZENANDE MPAME 15:21 Tue, 07 Jul 2026
Die Parys-gemeenskap samel meubels, klere, kos en ander noodsaaklikhede in vir families wat alles in die Heldersig-brand verloor het.
Die Vrystaatse polisie ondersoek die oorsaak van ’n brand in ’n meenthuiskompleks op Parys waarin ’n vrou (77) dood is en vier eenhede uitgebrand het.
’n Geregtelike doodsondersoek is Sondag (7/5) geopen nadat die vrou se liggaam ná die brand in een van die Heldersig-eenhede gevind is. Sy is op die toneel dood verklaar.
Die Parys-gemeenskap vra hulp om die families wat deur die brand geraak is te help om hul lewens te herbou deur meubels, klere, huishoudelike goedere, kospakkies en ander noodsaaklikhede in te samel.

Vier meenthuise is in puin gelê in die kompleks in Noorderstraat op Parys. Foto verskaf
“Die polisie is omstreeks 10:00 na die woonstelkompleks ontbied nadat ’n brand daar uitgebreek het,” sê Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Met hul aankoms het die polisie vier wooneenhede reeds in vlamme aangetref, terwyl brandbestryders besig was om die brand onder beheer te bring.
“Voorlopige ondersoeke dui daarop dat ’n kers moontlik die brand veroorsaak het. Ondersoeke duur voort.”
Wynand Nel, We Care-buurtwagleier en vrywilliger, sê die brand het veral bejaarde inwoners met feitlik niks gelaat nie. “Hierdie bejaardes het alles verloor, van klere en meubels tot die herinneringe wat hulle oor ’n leeftyd opgebou het. Hul hele lewe is in hierdie verwoestende brand uitgewis.”
Die eerste prioriteit is om die gesinne te help om hul lewe te herbou deur meubels, klere, huisware, kospakkies en ander noodsaaklikhede in te samel, vertel hy. “Ons vra mense om hul hart oop te maak en enige ongebruikte huishoudelike items te skenk sodat ons dié families kan help om hul lewens weer van vooraf te begin.
“Dit sal vir hulle ’n traumatiese ervaring bly, maar saam kan ons hulle help om weer aan die gang te kom. Die families kort dringend vroueklere in medium tot groot groottes, mansklere in groot tot ekstragroot, kos, toiletware, beddegoed, beddens, matrasse en huishoudelike noodsaaklikhede.”
Geldelike skenkings word gevra met die verwysing “Brandslagoffers Donasie” om te verseker dat bydraes korrek toegewys word.
Die polisie vra gemeenskapslede moet waaksaam bly en brandveiligheid voorop te stel om tragedies te help voorkom.
• Moet nooit kerse, paraffienstowe of oop vlamme sonder toesig laat nie.
• Blus kerse en skakel verhittingstoestelle af voordat jy gaan slaap of die huis verlaat.
• Hou kerse, verwarmers en oop vlamme weg van gordyne, beddegoed, klere en ander vlambare materiaal.
• Beplan ’n ontsnaproete en maak seker almal in die huishouding weet hoe om vinnig te ontruim indien ’n brand uitbreek.
OFM-nuus/Zenande Mpame sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

