Central SA
Man se dood in aanhouding ná twee dekades wéér bekyk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:46 Tue, 07 Jul 2026
’n Hof in Noordwes sal na verwagting voor einde vandeesmaand ’n beslissing maak oor die dood van ’n man wat 20 jaar gelede glo in polisieaanhouding gesterf het.
’n Formele geregtelike doodsondersoek na die dood van Solomon (Solly) Nengwane (42) sloer reeds vyf jaar in die landdroshof in Brits. Die ondersoek moes in April 2021 begin het, maar die saak is herhaaldelik uitgestel, sê Barry Bateman, AfriForum-woordvoerder van die privatevervolgingseenheid.
Die hof het op 25 Junie die eenheid se aansoek vir ’n informele geregtelike doodsondersoek toegestaan. Dit beteken die landdros sal die feite en getuienis in die dossier oorweeg sonder dat getuies geroep word.
AfriForum se privatevervolgingseenheid verteenwoordig Nengwane se familie, wat reeds jare wag om uit te vind of iemand vir sy dood aanspreeklik gehou gaan word.
Adv. Gerrie Nel, hoof van die privatevervolgingseenheid, meen persone van belang in die saak het die finalisering van die ondersoek doelbewus vertraag om aanspreeklikheid te vermy. “Die enigste bevinding wat gemaak kan word, is dat polisielede prima facie, of op die oog af, verantwoordelik was vir Nengwane se dood,” sê Nel.
Die saak is aanvanklik vir strafregtelike vervolging op die rol geplaas, maar is in November 2020 deur adv. Sibongile Mzinyathi, destydse direkteur van openbare vervolging in Gauteng, teruggetrek en vir ’n geregtelike doodsondersoek verwys.
Talle oudpolisiebeamptes en ’n huidige misdaadintelligensiebeampte is reeds as persone van belang geïdentifiseer. Hulle was na bewering verantwoordelik vir, of betrokke by, Nengwane se dood, sê Bateman.
Dag van sy dood
Nengwane was een van vyf mense wat in 2006 in hegtenis geneem en ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollars en dwelms uit die Benoni-polisiekantoor gesteel is. Hy het in die nag van 6 op 7 Junie 2006 gesterf terwyl hy glo in polisieaanhouding was. Sy liggaam is later by ’n hospitaal afgelaai nadat rigor mortis reeds ingetree het.
Die betrokkenes se weergawe is dat Nengwane, terwyl hy op ’n sogenaamde uitwysing geneem is, begin sukkel het om asem te haal. Hulle het hom glo daarna na die Dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa geneem.
“Die dokter wat hom ondersoek het, het egter gesê Nengwane was waarskynlik reeds minstens twee tot drie uur dood toe hy by die hospitaal aangekom het,” sê Bateman. Die saak word in Brits aangehoor omdat die hospitaal binne die hof se jurisdiksie val.
Saak probeer ontwrig en verhinder
“Die persone van belang moet vervolg word,” sê Nel. Hy meen die aanvanklike strafregtelike vervolging moet hervat word en dat die mense wat vir Nengwane se dood verantwoordelik was, asook moontlike medepligtiges, van moord en regsverydeling aangekla moet word.
“Die voortdurende afwesigheid van aanspreeklikheid in hierdie soort saak verteenwoordig ’n klaaglike mislukking van geregtigheid. Min dinge kan meer verwoestend wees vir ’n bedroefde familie as om waarheid, berusting en geregtigheid ontsê te word as ’n geliefde gesterf het terwyl hy in die sorg van die polisie was.”
‘Die mense van belang in hierdie saak (het) die ondersoek probeer ontwrig’
“Die saak het die manier blootgelê waarop wetstoepassers die strafregstelsel blyk te misbruik om aanspreeklikheid te vermy,” sê Bateman. “Die Solomon Nengwane-saak is veral van belang in ’n tyd waarin die Madlanga-kommissie blootlê hoe polisiebeamptes beweerde misdadigheid probeer verbloem.
"Die afgelope vyf jaar het die mense van belang in hierdie saak die ondersoek probeer ontwrig en verhinder om te begin, maar die privatevervolgingseenheid is vol vertroue dat daar genoegsame bewyse in die dossier is om die ondersoeklanddros in staat te stel om die nodige bevinding te maak en die direkteur van openbare vervolgings te oortuig om wel te vervolg."
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

