Central SA
Bloemfonteinse sakevrou se aanrandingsverhoor begin─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:24 Wed, 08 Jul 2026
Die verhoor van ’n Bloemfonteinse sakevrou, wat daarvan aangekla word dat sy ’n oudwerknemer aangerand het, begin na verwagting Donderdag (9/7).
Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, staan tereg op ’n aanklag van aanranding. Sy het op 18 Junie vlugtig in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn, toe die saak uitgestel is vir verhoor.
Venter se regspan het op 5 Junie vertoë gerig aan die direkteur van openbare vervolgings. Daarin is versoek dat die aanklag teruggetrek word, of dat die saak deur bemiddeling afgehandel word. Dié versoek is geweier.
Dipao Moreng, die klaer in die saak, beweer ’n rusie het op 24 Oktober by Venter se woning in Fichardtpark ontstaan. Sy het betaling geëis wat glo aan haar verskuldig was.
Moreng het destyds by Venter se kosonderneming gewerk toe sy glo daardie dag gevra is om verpakkingswerk, wat die vorige dag gedoen is, oor te doen. Sy beweer Venter het haar beledig en ’n video-opname gemaak terwyl sy die gehalte van die werk bevraagteken het.

Franzelle is 'n besigheidseienaar in Bloemfontein. Foto: Facebook
Moreng sê sy het besluit om die perseel te verlaat en geld vir vervoer gevra. “Venter het aggressief geraak. Sy het my teen die sleepwa gedruk terwyl sy my gewurg het,” beweer sy in haar verklaring.
’n Kollega het glo probeer ingryp, maar kon nie daarin slaag om die twee vroue te skei nie. “Haar hande was heeltyd om my nek en sy het my gewurg. Ek kon nie asemhaal nie,” beweer Moreng.
Sy het glo krapmerke aan die linkerkant van haar nek en aan haar borskas opgedoen. “Ek wil hê die saak moet ondersoek word, want niemand het haar toestemming gegee om my so aan te rand nie,” sê Moreng.
Venter is aanvanklik van poging tot moord aangekla, maar die klag is later na aanranding verander. Sy is op waarskuwing vrygelaat. Teneal van Deventer en kandidaat-regspraktisyn Wiehan Schoeman van Horn & Van Rensburg Prokureurs tree namens haar op.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

