Central SA
Upington midde-in krisis weens stormwaterstelsel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:20 Wed, 08 Jul 2026
Inwoners en sake-eienaars in ’n Noord-Kaapse dorp word toenemend blootgestel aan oorstromings, beskadigde infrastruktuur en moontlike gesondheidsrisiko’s weens ’n stormwaterstelsel wat besig is om te faal.
Daar is egter nog geen antwoord van die Dawid Kruiper-munisipaliteit nie, nadat AfriForum meer as ’n week gelede ses dringende eise gestel het om verdere skade te voorkom. Die probleme spruit uit verstopte stormwaterpype, mangate en afvoerkanale, asook groot waterverliese, sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.
“Die munisipaliteit se onvermoë of onwilligheid om die probleme met waterverliese en stormwaterdreinering aan te pak, lei tot die oorstromings van eiendomme, skade aan geboue, paaie en ander infrastruktuur, gevaarlike toestande vir motoriste en voetgangers, en die moontlike verspreiding van siektes,” sê hy.
‘Alle stormwaterpype, mangate moet ondersoek word’
AfriForum dring aan dat die munisipaliteit ’n omvattende ondersoek doen na alle stormwaterpype, mangate en afvoerstelsels in die gebied. Die organisasie eis ook die instelling van ’n gereelde instandhoudings- en skoonmaakprogram, die herstel van geblokkeerde of beskadigde infrastruktuur en die versterking van die noodreaksieplan vir hoofwaterpype wat bars.
“Ons eis ’n verbeterde kommunikasiestrategie om gemeenskappe betyds oor beplande instandhouding en herstelwerk in te lig, asook risikoassesserings in gebiede wat gereeld deur oorstromings geraak word,” sê Strauss. Die omvang van waterverliese in die munisipaliteit is veral kommerwekkend in ’n streek waar water skaars is.
Helfte van munisipale water gaan verlore
’n Verslag van die munisipaliteit toon sowat R21,52 miljoen se water het tydens die 2023/2024-boekjaar verlore gegaan. “Dit beteken nagenoeg die helfte van die water wat deur die munisipaliteit se pyplyne vloei, verlore gaan,” sê Strauss.

Upington se inwoners is bekommerd oor water wat gedurig in die strate stroom. Foto verskaf
“Die munisipaliteit se jongste beskikbare jaarverslag vir 2024/2025, wat vroeër vanjaar uitgereik is, waarsku ook dat die verouderde waternetwerk ’n ernstige bedreiging inhou omdat pype voortdurend bars en besoedeling in die netwerk kan veroorsaak.”
‘Waterverliese onaanvaarbaar hoog’
In dieselfde verslag word waterverliese as “onaanvaarbaar hoog” beskryf en word aan gebrekkige waterbestuurstelsels toegeskryf. Die munisipaliteit erken die instandhouding van stormwaterstelsels bly ’n uitdaging weens ’n gebrek aan geskikte toerusting, wat volgens die verslag tot die verspoeling van paaie lei.
“Die munisipaliteit is duidelik bewus van die omvangryke probleme met waterverliese en stormwaterdreinering. Tog is hul hantering van dié probleme totaal ontoereikend.
‘Veiligheid en gesondheid van Upington se inwoners moet voorkeur kry’
“Intussen ly inwoners en sake-eienaars daaronder wanneer water in strate opdam, openbare ruimtes oorstroom of in huise en ondernemings invloei,” sê Strauss.
Die gebrek aan gereelde instandhouding en die inspeksie van stormwater- en waterinfrastruktuur stel ook die gemeenskap bloot aan onnodige risiko’s. “Dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om te verseker hierdie infrastruktuur funksioneer behoorlik en dat inwoners se veiligheid en welstand beskerm word,” sê hy.
Plaaslike owerhede word ingevolge die Grondwet, die munisipale stelselswet, die nasionale waterwet en die wet op beroepsgesondheid en -veiligheid verplig om infrastruktuur doeltreffend te bestuur en te onderhou, asook om risiko’s vir die publiek te beperk.
“Die veiligheid, gesondheid en ekonomiese welstand van Upington se inwoners moet nou geprioritiseer word. Ons vertrou die munisipaliteit sal hierdie saak met die nodige dringendheid hanteer en stappe sal doen om verdere skade en risiko’s te voorkom,” sê Strauss.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

