On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Miljoene weg by Kathu-skool: Vrou se borgtog geweier

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:39 Wed, 08 Jul 2026

Miljoene weg by Kathu-skool: Vrou se borgtog geweier | News Article
Jessica Kuhn. Foto verskaf

Die Noord-Kapenaar wat daarvan beskuldig word dat sy miljoene rande by ’n skool verduister het, se borgtogaansoek is geweier.

Jessica Kuhn (43), ’n voormalige finansiële administrateur by die Hoërskool Kathu, staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente. Sy sal nog byna twee maande agter tralies deurbring voordat sy weer op 31 Augustus in die hof verskyn, sê lt.kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die saak is na die handelsmisdaadhof oorgeplaas nadat sowat R4,6 miljoen weggeraak het wat bestem was vir onderwysers se vergoeding en die bestuur van die skool.

Kuhn het Dinsdag (7/7) in die Kathu-landdroshof voorgekom waar sy om borgtog aansoek gedoen het. “Die Valke het besluit om borgtog teen te staan met nuwe feite wat aan die hof voorgelê is,” sê Thebe.

Die beskuldigde is Donderdag (2/7) tuis op Kathu deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad, saam met hul kollegas van die eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente.

“Die modus operandi het behels dat afsonderlike private bankrekeninge geskep is waarheen skoolgeld oorgeplaas is. Finansiële onreëlmatighede is in Oktober 2025 tydens ’n oudit ontdek toe afwykings in die skool se finansiële rekords aan die lig gekom het,” sê Thebe.

Die gesteelde geld het skoolgeld en skenkings ingesluit wat gebruik word om die salarisse te betaal van onderwysers wat deur die skoolbeheerliggaam aangestel is.

‘Die beskuldigde (het) na bewering oortydbetalings aan haarself toegestaan’

Nadere ondersoek het blykbaar aan die lig gebring dat Kuhn fiktiewe fakture opgestel het wat voorgegee het om van wettige skoolverskaffers afkomstig te wees, waarna betalings na haar persoonlike bankrekening vir haar eie voordeel gemagtig is.

“Daar is ook bewerings dat die beskuldigde na bewering oortydbetalings aan haarself toegestaan het ondanks die skool se beleid wat sulke betalings verbied,” sê Thebe.

Genl.maj. Stephen Mabuela, provinsiale Valke-hoof, sê die weiering van borgtog stuur ’n duidelike boodskap aan misdadigers wat skole vanuit vertrouensposisies teiken. “Ons skole is entiteite sonder winsoogmerk, maar verloor steeds aansienlike bedrae geld aan werknemers in hul finansiële kantore.”

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.