On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrae gevra oor Vaaldriehoek se R400 m.-brug na nêrens

───   11:18 Thu, 09 Jul 2026

Vrae gevra oor Vaaldriehoek se R400 m.-brug na nêrens | News Article
Die brug is die minste van Emfuleni-inwoners se bekommernisse, sê Chabalala. Foto verskaf

Die DA in die Vaaldriehoek is verbaas dat die Gautengse departement van vervoer en logistiek en Emfuleni-munisipaliteit meer as R400 miljoen kon bestee aan ’n brug na nêrens terwyl die munisipaliteit in ’n volskaalse diensleweringskrisis verkeer.

Kingsol Chabalala, DA-wetgewerlid, sê die nuwe oorbrug op die R42 het belastingbetalers ’n aardige bedrag uit die sak gejaag. Di8e brug was bedoel om die noordelike ontwikkelde gebiede met die R42 en die ontwikkeling van Vaal River City te verbind.

“Die projek is deur vertragings gekniehalter en bly onvoltooid, terwyl inwoners van Emfuleni steeds doeltreffende dienslewering ontsê word.”


Dienslewering behoort voorkeur bo ’n brug te kry, meen Chabalala, sy party se burgemeesterskandidaat vir die verkiesing op 4 November. “Die brug is die minste van Emfuleni-inwoners se bekommernisse. 

“Die R400 miljoen kon eerder gebruik geword het om onbruikbare vullisterreine en rou riool, wat deur die oorblyfsels van paaie regoor die munisipaliteit vloei, die hoof te bied.”

Die DA het vrae ingedien by die Gautengse provinsiale wetgewer oor die doelwit van die brug, asook die logistiek rondom die bou daarvan. “Wat aan die lig gekom het, wys die bou van die brug was ’n futiele oefening,” sê Chabalala.

Chabalala sê die brug is die minste van Emfuleni-inwoners se bekommernisse. Foto: Instagram/da_gauteng

Die ANC-beheerde munisipaliteit se versuim om te beplan “het gelei tot die bou van ’n brug wat in werklikheid ’n doodloopstraat is. Daar is glo twee brûe gebou om met die oorbrug te verbind, maar albei loop ook dood,” sê hy.

Die beraamde koste om die verbindingspaaie te voltooi is R55 miljoen. “Dit hang daarvan af of Vaal River City, ’n private ontwikkelaar, finansiering vir dié deel van die werk bekom, en daar is geen vasgestelde tydraamwerk nie.

“Die verbindingspaaie het nooit deel van die oorspronklike omvang van die provinsiale padprojek gevorm nie en is op private grond geleë.”

Intussen sê die VF Plus die Nasionale Tesourie se besluit om ’n gedeelte van Julie se gelykberegtigingstoelae van Emfuleni te weerhou, plaas die munisipaliteit nou onder streng finansiële toesig. 

“As die munisipaliteit nie aan die gestelde voorwaardes voldoen nie, sal verdere fondse weerhou word,” sê rdl. Gerda Senekal. “Dit sal dienslewering nog verder verswak en Emfuleni op die rand van ’n totale finansiële ineenstorting bring.”

Die VF Plus het die munisipaliteit herhaaldelik gewaarsku dat finansiële dissipline herstel, korrupsie uitgeskakel en wanbestuur dringend uitgeroei moet word, voeg sy by.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.