Central SA
Vrae gevra oor Vaaldriehoek se R400 m.-brug na nêrens─── 11:18 Thu, 09 Jul 2026
Die DA in die Vaaldriehoek is verbaas dat die Gautengse departement van vervoer en logistiek en Emfuleni-munisipaliteit meer as R400 miljoen kon bestee aan ’n brug na nêrens terwyl die munisipaliteit in ’n volskaalse diensleweringskrisis verkeer.
Kingsol Chabalala, DA-wetgewerlid, sê die nuwe oorbrug op die R42 het belastingbetalers ’n aardige bedrag uit die sak gejaag. Di8e brug was bedoel om die noordelike ontwikkelde gebiede met die R42 en die ontwikkeling van Vaal River City te verbind.
“Die projek is deur vertragings gekniehalter en bly onvoltooid, terwyl inwoners van Emfuleni steeds doeltreffende dienslewering ontsê word.”
Dienslewering behoort voorkeur bo ’n brug te kry, meen Chabalala, sy party se burgemeesterskandidaat vir die verkiesing op 4 November. “Die brug is die minste van Emfuleni-inwoners se bekommernisse.
“Die R400 miljoen kon eerder gebruik geword het om onbruikbare vullisterreine en rou riool, wat deur die oorblyfsels van paaie regoor die munisipaliteit vloei, die hoof te bied.”

Die R400 miljoen-brug in Emfuleni wat nêrens heen lei. Photo verskaf
Die DA het vrae ingedien by die Gautengse provinsiale wetgewer oor die doelwit van die brug, asook die logistiek rondom die bou daarvan. “Wat aan die lig gekom het, wys die bou van die brug was ’n futiele oefening,” sê Chabalala.

Chabalala sê die brug is die minste van Emfuleni-inwoners se bekommernisse. Foto: Instagram/da_gauteng
Die ANC-beheerde munisipaliteit se versuim om te beplan “het gelei tot die bou van ’n brug wat in werklikheid ’n doodloopstraat is. Daar is glo twee brûe gebou om met die oorbrug te verbind, maar albei loop ook dood,” sê hy.
Die beraamde koste om die verbindingspaaie te voltooi is R55 miljoen. “Dit hang daarvan af of Vaal River City, ’n private ontwikkelaar, finansiering vir dié deel van die werk bekom, en daar is geen vasgestelde tydraamwerk nie.
“Die verbindingspaaie het nooit deel van die oorspronklike omvang van die provinsiale padprojek gevorm nie en is op private grond geleë.”
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

