On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Gestremde seun sentraal in Welkom-egpaar se vonnisverrigtinge

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:55 Thu, 09 Jul 2026

Gestremde seun sentraal in Welkom-egpaar se vonnisverrigtinge | News Article
Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina. Foto’s: Charne van der Merwe

Die saak teen ’n oudpolisieman van Welkom en sy vrou is tot Dinsdag (14/7) uitgestel vir vonnisoplegging nadat twee voorvonnisverslae, wat korrektiewe toesig as ’n vonnisopsie steun, aan die hof voorgelê is.

Daniel Jacobus (60) en Anna Francina (55) Fourie het Woensdag in die streekhof in Welkom verskyn. Die egpaar is op 7 April skuldig bevind aan meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria wat spruit uit ’n jare lange vete met die sakebroers Manny en José Jardim.

Die twee verslae wat die staat aangevra het, word as bewysstukke toegelaat om die hof te help bepaal watter vonnis gepas sal wees. Mollin Matsididi, ’n maatskaplike werker van die Vrystaatse departement van maatskaplike ontwikkeling, het die eerste verslag opgestel oor die maatskaplike uitwerking wat gevangenisstraf op die egpaar en hul verstandelik gestremde kind kan hê.

Matsididi beveel aan die Fouries moet korrektiewe toesig opgelê word, aangesien gevangenisstraf ’n ernstige uitwerking op hul gesin en veral hul kind kan hê.

Staatsaanklaer Allen Simpson voer egter aan Matsididi se verslag is nie gebalanseerd nie. Hy sê die verslag handel hoofsaaklik oor wat in die belang van die beskuldigdes en hul gesin sal wees, sonder om voldoende aandag te gee aan die gemeenskap en die slagoffers.

Die gesin is nou hoofsaaklik van Anna se salaris afhanklik. Daniel is in 2020 weens die saak uit sy werk ontslaan, terwyl die gesin ook op hul plaas en die verkoop van vee staatmaak vir ’n inkomste, wat nie gewaarborg is nie.

Anna, ’n klerk in die Hennenman-polisiekantoor, het vroeër getuig die gesin het sedert Daniel se aanhouding op 27 April reeds tien beeste verloor. Die verliese benadeel hul finansiële situasie verder en sy sukkel om die plaas alleen te bestuur, terwyl sy vrees dat nog vee gesteel kan word.

Een van die egpaar se dogters, Anshe, sê in die verslag haar gestremde broer is slegs aan sy ouers gewoond omdat sy ander sibbe reeds uit die huis is. Haar broer luister nie sommer na ander mense in die huis nie, maar wel na sy pa.

Mollin Matsididi, ’n maatskaplike werker. Foto Charne van der Merwe

Dit is vir haar moeilik om alleen na haar broer om te sien, veral wanneer hy aanvalle kry. Indien albei ouers tronkstraf kry, sal sy moontlik haar studies moet staak en haar lewe as jong mens opsy moet skuif om na hom om te sien.

Die maatskaplike werker verduidelik verandering kan vir mense met outisme besonder uitdagend wees. Volwassenes met outisme kan meer kommunikasieprobleme, sensoriese oorlading en verhoogde angs ervaar wanneer hulle by nuwe omgewings of verandering moet aanpas.

Die seun (32) kan by ’n instelling geplaas word wat in sy toestand spesialiseer, maar so ’n plasing moet vooraf beplan word. Die proses kan, afhangend van die erns van sy toestand, weke, maande of selfs ’n jaar duur.

Matsididi waarsku verder daar sal nie geld wees om vir só ’n fasiliteit te betaal indien albei ouers tronk toe gaan nie. Hoewel Daniel tans nie by die huis is nie, bly die kind steeds in die omgewing waaraan hy gewoond is.

Mabaleka Jan Radebe van die departement van korrektiewe dienste. Foto: Charne van der Merwe

Die tweede verslag is opgestel deur Mabaleka Jan Radebe van die departement van korrektiewe dienste. In antwoord op opvolgvrae in die hof oor die verslag het hy getuig die beskuldigdes is geskik vir korrektiewe toesig as ’n vonnisopsie. So ’n gemeenskapsgegronde vonnis kan huisarres, gemeenskapsdiens, die bywoning van rehabilitasieprogramme en gereelde aanmelding by korrektiewe dienste-amptenare insluit.

Simpson het egter uitgewys Radebe het na slegs drie aanklagte verwys, terwyl die egpaar op meer as 1 000 aanklagte skuldig bevind is. Die verslag gee gevolglik nie ’n volledige beeld van die erns en omvang van die misdrywe nie. Hy voer aan die saak is veel ernstiger as wat dit in die korrektiewe dienste-verslag voorgestel word.

Radebe versoek die hof egter om streng voorwaardes op te lê wat die erns van die oortredings weerspieël. Anna word spesifiek vir plasing onder huisarres aanbeveel. Die verslag voer aan haar ouderdom, volwassenheid, werksgeskiedenis en vermoë om ’n vonnis uit te dien wat haar nie van haar vryheid ontneem nie, moet in ag geneem word.

Die Fourie-egpaar Woensdag in die hof. Foto: Charne van der Merwe

’n Gemeenskapsgegronde vonnis kan, waar dit regtens gepas is, aanspreeklikheid bevorder sonder om die gesin se bestaande ondersteuningstelsel heeltemal te vernietig, getuig Radebe. “Die beskuldigdes se bereidwilligheid om met die hofproses saam te werk kan ook daarop dui dat hulle die erns van die misdrywe besef.”

Hulle sal na verwagting op 14 Julie gevonnis word. Simpson is ingevolge art. 38 van die NVG-wet aangestel om namens die vervolging op te tree.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.