Central SA
Trokdrywers gewaarsku teen misdadigers by Namibiese grens─── 13:21 Thu, 09 Jul 2026
Noord-Kaapse polisie waarsku vragmotorbestuurders moet op hul hoede wees wanneer hulle in die omgewing van die Vioolsdrif-grenspos stilhou.
Die plaaslike polisie het flink gereageer en twee mans aangekeer nadat hulle na bewering ’n vragmotorbestuurder beroof het, sê kapt. Ivan Magerman, Namakwalandse polisiewoordvoerder. Hy het parkeer by ’n stilhouplek naby die Namibiese grens.
Die verdagtes (26 en 27) het die vragmotorbestuurder Woensdag (8/7) omstreeks 12:15 genader en geld geëis, vertel Magerman. “Toe die bestuurder weier, het hulle sy beursie met geweld gegryp en hulle uit die voete gemaak.”
Plaaslike polisiebeamptes het egter nie op hulle laat wag nie. Hulle het die verdagtes opgespoor en kort ná die voorval in hegtenis geneem.
Brig. Schalk Andrews, Namakwa-distrikskommissaris, maan vragmotorbestuurders om waaksaam te bly wanneer hulle naby die Vioolsdrif-grenspos parkeer. “Vermoedelik nader oortreders wat in die omgewing bedrywig is, vragmotorbestuurders onder die voorwendsel dat hulle net ’n klein bedrag geld vra,” sê Magerman.
“As hulle versoek geweier word, wend hulle hulle tot roof en beroof niksvermoedende slagoffers van hul persoonlike besittings. Vragmotorbestuurders wat deur die Vioolsdrif-grenspos na en van Namibië reis, word versoek om waaksaam te bly en enige verdagte gedrag onmiddellik aan te meld.”
Enigiemand met inligting oor misdaadbedrywighede suid van die grens, word gevra om lt.kol. Japie Peters by 060 861 6550 of 082 495 5294 te bel, Stop Misdaad by 08600 10111 of inligting op die MySAPS-app deur te gee. Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.
Die Grensbestuursowerheid het enkele jare gelede gewaarsku die hoë pryse van graan en oliesade lei tot ’n toename in diefstal, vervalste identiteite en valse laai-aanwysings, kapings van voertuie wat graan vervoer, en rooftogte op graan in transito. Dit kan indirek tot hoër versekeringspremies vir padvervoerders lei.
Van die gekaapte vragte word per pad na bestemmings in Afrika vervoer. Dié misdaad kan bekamp word deur gesteelde of geroofde vragte en voertuie onderweg na grensposte of hawens, soos Beitbrug, Lebombo, Maseru-brug, Ficksburg, Oshoek, Kopfontein, Groblersbrug, Vioolsdrif, Ramatlabana, Nakop en Qachasnek, aan te meld by die Grensbestuursowerheid.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

