On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse man weer in hof ná beweerde verkragting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:55 Thu, 09 Jul 2026

Vrystaatse man weer in hof ná beweerde verkragting | News Article
Foto: iStock

’n Vrystater moet weer op 11 Augustus in die hof verskyn nadat ’n vrou, wat hy in ’n plaaslike kroeg ontmoet het, hom daarvan beskuldig dat hy haar verkrag het.

Die beskuldigde (43) het Maandag (6/7) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Hy staan tereg op ’n aanklag van verkragting.

Die 45-jarige en die beskuldigde het glo in ’n kuierplek in die stad ontmoet waar hulle tyd saam deurgebring en telefoonnommers uitgeruil het. Hulle het daarna kontak behou en ooreengekom om mekaar weer op 30 Junie in dieselfde kroeg te ontmoet, lui die klagstaat.

Die vrou beweer dat hulle later die aand na die beskuldigde se woning gegaan het, waar die beweerde verkragting plaasgevind het. Sy het die volgende dag ’n klagte by die polisie aanhangig gemaak, waarna die beskuldigde op 2 Julie in hegtenis geneem is.

Hy is Maandag op borgtog van R1 000 vrygelaat nadat hy die naweek in aanhouding deurgebring het. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.

Ingevolge Artikel 154(2)(b) van die Strafproseswet mag die identiteit van die klaer, sowel as dié van die beskuldigde, nie bekend gemaak word voordat die beskuldigde gepleit het nie.

Kuruman-man skuldig bevind

In ’n afsonderlike voorval is Moemedi Dithobe (30) van Mothibistad, naby Kuruman, Woensdag (8/7) tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat die Mothibistadse streekshof hom skuldig bevind het aan verkragting.

Die skuldigbevinding spruit uit die verkragting van ’n 44-jarige tuis in Mothibistad in die vroeë oggendure van Sondag 13 November 2022, sê lt.kol. Thabo Litabe, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die klaer het omstreeks 04:00 saam met haar kinders geslaap toe sy voetstappe buite haar huis gehoor het. Die beskuldigde het glo ’n venster van die slaapkamer gebreek en toegang tot die woning verkry,” sê Litabe.

‘Hy het die slagoffer na bewering gedreig en beveel om nie te skree nie’

Die beskuldigde was met ’n mes gewapen, sê Litabe. Hy het die slagoffer na bewering gedreig en beveel om nie te skree nie. Dithobe het haar daarna aangesê om vir hom ’n slaapplek op die vloer reg te maak, waarna hy haar met geweld ontklee en in die teenwoordigheid van haar tweelingkinders verkrag het.

Die beskuldigde het daarna aan die slaap geraak, waarna die slagoffer hulp by haar bure gaan soek en die voorval by die polisie aangemeld het. Dithobe is ná ’n ondersoek in hegtenis geneem en suksesvol vervolg.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.