On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

‘My hart het in die Groot Marico agtergebly’ – 12-jarige van Bethlehem ná jagtog

───   SUSAN MARÉ 10:00 Fri, 10 Jul 2026

‘My hart het in die Groot Marico agtergebly’ – 12-jarige van Bethlehem ná jagtog | News Article
CJ Kotzé (12) met een van die blesbokke wat hy platgetrek het. Foto verskaf

’n Seun van Bethlehem wat ná jagopleiding sy eerste twee bokke platgetrek het op ’n plaas by Zeerust in Noordwes, sê hy sal dit nooit vergeet nie.

Sy hart het in die Groot Marico agtergebly, vertel CJ Kotzé (12). As dit nie vir sy oom Henrie Degenaar van Vanderbijlpark was nie, weet hy nie so mooi nie.

Sy oom het vroeër vanjaar ’n paar keer na Bethlehem gekom om hom op ’n skietbaan op ’n jagplaas in die omgewing van Daniëlsrus naby Bethlehem te leer skiet.

CJ se oom is die eienaar van Train to Hunt SA. Dit is ’n etiese jaggemeenskap wat toegespits is op tegniese, fisieke en etiese paraatheid. Sy opleiding gaan veral oor Christelike karakterbou en om geleenthede te skep vir jong mense wat in jag belangstel.


Eindelik was CJ gereed om lewende vierbeenprooi aan te durf, eerder as om net op oefenteikens te mik. Hy het geoefen om verskillende afstande te bemeester – 200 m, 150 m en 100 m. Sy jagervaring was op die wildsplaas Marikwa wat al byna sewe geslagte sedert 1838 aan die Groblers behoort.

Die wildsplaas is aan die Klein-Maricorivier geleë. CJ se oupa, ds. Phillip Horn van Bethlehem, was sy ander steunpilaar tydens die jagtog. Saam het hy en sy oupa veel meer as net die jaggeleentheid ervaar en die pragtige natuurskoon van die Groot Marico fyn bekyk en geniet.

“Dis nie ’n plat wêreld nie. Waar ons was, is dit baie op en af. Daar is berge, riviere, die Klein Maricorivier, spruite, waterdrinkgate vir die wild, kwêvoëls se onverwagse geskree wat die bokke waarsku dat hulle in gevaar is en dit vir die jagter moeilik kan maak,” vertel CJ.

Jagters in die Groot Marico. Van links is Henrie Degenaar, CJ Kotzé en ds. Phillip Horn. Foto verskaf

“In die dag was dit lekker warm maar vroeg in die oggende sommer minus 5 grade. Oom Johan se twee kinders was my skietmaats.”

Wat die jagtog betref, vertel CJ hy was wel bang ook. Hy wou eerstens nie sy oom teleurstel nie en hy wou dit regkry om ’n bok te skiet. In sy hart was hy heeltyd bang hy kwes ’n bok. Hy wou suiwer skiet, ’n bladskoot.

“Ek het voor en tydens die jagtog nooit gestort nie en was seker maar ‘varkierig’, maar die bokke wat so skerp en ver kan ruik kon dalk seep aan my geruik het. Ek wou nie my kanse verloor nie. Oom Henrie het my mooi geleer oor hoe dit is om ’n jagter te wees. Wat mag, en wat nie mag nie.”

‘Om te jag is nie om maar net op ’n bakkie se bak te ry met ’n geweer nie’

CJ se mikpunt was om twee bokke te skiet, ’n rooibok en ’n blesbok maar die rooibokke het nie saamgespeel nie en was elders. Hy het daarin geslaag ’n blesbokooi en ’n blesbokram te skiet. Die ooi het hy oor 149 m en die ram oor 125 m geskiet. Dit was goeie bladskote.

“Oom Johan (Grobler) het die bakkie bestuur en heeltyd met my en oom Henrie op die bakkie gekommunikeer. Om te jag is nie om maar net op ’n bakkie se bak te ry met ’n geweer nie. Daar moet kommunikasie wees. Jy moet kalm en vol selfvertroue wees en gedissiplineerd, het oom Henrie my geleer. Dit gaan nie net oor skiet nie.”

Hy herleef nog daardie oomblikke toe hy die sneller getrek het. Hy wou raakskiet. Die eenkeer het die bok nie geval nie en het die bokke begin maal. Het hy die bok gekwes, het hy ontsteld gewonder. Toe beweeg die bokke weg en daar lê die bok.

CJ loop van sy eerste jagtog weg met twee blesbokke, ‘n splinternuwe jagmes met sy naam ingegraveer, twee bokskedels wat nog in voorbereiding is en ‘n bokpootjie wat ‘n kierie gaan word. Foto verskaf

Wat hy altyd onthou van sy eerste jagervaring sal onthou, is die gevoel om langs elke dooie bok te staan en te weet hy het dit reggekry. “Ek het goed oor myself gevoel. Dat ek twee bokke kon skiet en dat dit goeie skote was. Ek wou oom Henrie ook trots maak en sal weer saam met hom wil gaan jag.”

Sy ma, Elrike, suster, Anike, en ouma Hester Horn wat by die huis was, is ook trots op hom. CJ sien nou uit na die biltong en droëwors wat in wording is. Hy is bereid om twee bokboude aan sy oupa af te staan. Sy ma en ouma is saam in ’n besigheid, La Hess Cookery, en sy oupa maak ook lekker kos.

Daar is ook die bokpootjie wat hy saamgebring het wat nou in sout lê. Hy beplan om ’n kierie daarvan te laat maak. Die bokke wat hy geskiet het, se skedel is ook nog eendag na hom op pad, wat hy in sy kamer of die huis kan ophang. En dan is daar ook die splinternuwe jagmes wat sy oom spesiaal vir hom gemaak het.

‘Jong jagters leer die fyn etiek van die jagkuns wat so deel is van ons kultuurerfenis’

Horn sê die samewerking tussen CJ en sy mentor was besonders om te ervaar. “My swaer is daarop toegespits om lewenswaardes aan kinders oor te dra en doen dit onder die vaandel van Life Christian Adventures, Train to Hunt SA.”

“Dit gaan nie net oor skiet of ’n lekker ervaring nie. Dit gaan oor volharding, deursettingsvermoë, karakterbou, selfvertroue ontwikkel, dissipline en kommunikasie. Die jong jagters leer die fyn etiek van die jagkuns wat so deel is van ons kultuurerfenis.

“Toe ons terugry na Bethlehem het CJ gesê sy hart het in die Groot Marico agtergebly. Ons het die wêreld, die natuurskoon daar ten volle geniet.” Dit is ook die latere wêreld van die skrywer Herman Charles Bosman, waar hy ’n Afrikaans-onderwyser was en die stories van Oom Schalk Lourens geskryf het.

“Toe my kleinseun sê sy hart het in die Groot Marico agtergebly, kon ek stilweg met hom saamstem. In my hart was daar ’n gat.”

CJ se mentor, sy oom Henrie, praat met lof van hom: “Wat ’n fantastiese naweek in die veld! CJ het sy jagtog suksesvol voltooi en al die op- en afdraandes beleef wat van jag so ’n ongelooflike ervaring maak. Elke uitdaging het sy geduld, vasberadenheid en deursettingsvermoë getoets, maar hy het sy kop omhoog gehou en nooit moed opgegee nie.

“Sy harde werk is beloon met twee pragtige blesbokke! Baie geluk, CJ, met ’n welverdiende prestasie. Jy het gewys dat ’n mens sukses smaak as jy uithou. Ons is vreeslik trots op jou!”

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.