Central SA
Noordwes bestee miljoene aan konsultante, steeds geen skoon oudits─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:49 Sat, 11 Jul 2026
Meer as R416 miljoen is deur Noordwes-munisipaliteite aan konsultante bestee, maar nie ’n enkele munisipaliteit het ’n skoon oudit behaal nie.
'n Burgerregteorganisasie sê die ouditeur-generaal se jongste bevindings ontbloot jare se kaderontplooiing en verkwistende besteding. AfriForum doen ’n beroep op ’n onafhanklike ondersoek na die besteding van R416,59 miljoen aan konsultante in die 2024/25-boekjaar, sê Jaco Grobbelaar, hoof vir die sentraalstreek.
“Die buitensporige hoë besteding aan konsultante in munisipaliteite in Noordwes is die direkte gevolg van volgehoue kaderontplooiing op plaaslike regeringsvlak.”
Noordwes het die meeste in die land bestee aan konsultante en is verantwoordelik vir meer as ’n kwart van die R1,61 miljard wat landwyd bestee is.
Die organisasie het Lazarus Kagiso Mokgosi, Noordwes-premier, Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal, die openbare beskermer, die nasionale tesourie en Velenkosini Hlabisa, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, versoek om in te gryp, met verwysing na voortdurende finansiële wanbestuur en swak munisipale bestuur.
Nie een van die provinsie se 22 munisipaliteite het ’n skoon oudit ontvang nie.
‘Belastingbetalers se geld’
“Die uitgawes aan konsultante kom neer op ’n vermorsing van belastingbetalers se geld. As gevolg van ’n ernstige tekort aan finansiële vaardighede en vakante poste, het elk van die provinsie se 22 munisipaliteite finansiële konsultante aangestel om die werk te verrig.
“Ten spyte van hierdie besteding het alle munisipaliteite finansiële state met wanvoorstellings ingedien in die gebiede waar konsultante aangestel is om te help,” sê Grobbelaar.
Forensiese ondersoek
AfriForum eis ’n forensiese ondersoek na die besteding, die publikasie van alle konsultante se kontrakte en verslae, asook of die uitgawes onreëlmatig, vrugteloos of verkwistend was.
Daar moet ook grondwetlik ingegryp word by munisipaliteite wat herhaaldelik versuim om hul verpligtinge na te kom, asook volledige openbaarmaking van die kwalifikasies, ervaring en salarisse van munisipale finansiële amptenare.
Volgens die verslag het konsultantuitgawes in die provinsie van R257,53 miljoen in 2020/21 tot R416,59 miljoen in 2024/25 gestyg, terwyl munisipaliteite ook ’n verdere R691,24 miljoen aan hul finansiële eenhede bestee het.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek. Foto: Facebook
“Die verslag ontbloot nie ’n geïsoleerde finansiële mislukking nie, maar die voorspelbare uitkoms van jare se kaderontplooiing, waar politieke lojaliteit bo kundigheid en bekwaamheid gestel is,” sê Grobbelaar.
“Solank politieke aanstellings bo meriete geprioritiseer word, sal munisipaliteite aanhou agteruitgaan en gemeenskappe die prys daarvoor betaal.”
Hy sê inwoners verdien bekwame, professionele en verantwoordbare munisipale leierskap in plaas van meer verslae, meer konsultante en meer verkwistende besteding van belastingbetalers se geld.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

