Central SA
Vrystaatse speurder aangekeer ná beweerde afpersing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:36 Sun, 12 Jul 2026
Sy beweerde misbruik van sy mag het tot ’n einde gekom nadat hy in beplande en geheime operasie in hegtenis geneem is.
Die speursersant (43) sal na verwagting Maandag (13/7) in die landdroshof op Sasolburg op aanklagte van korrupsie en afpersing verskyn. Hy is Vrydag (10/7) in ’n lokval agter die Sasolburg-polisiekantoor deur die teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem, sê brig. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder.
Hy het glo geld van ’n man geëis met die belofte sy saak sal nie verder ondersoek word nie. Die polisie beweer die speurder het die man (41) Sondag (5/7) by sy woning in Zamdela gaan soek, maar hy was nie tuis nie.
Die beampte het Maandag teruggekeer en die man ingelig ’n saak van aanranding is teen hom aanhangig gemaak.
“Die speurder het glo daarna aan die man gesê daar is ‘geen saak nie’ en voorgestel dat hulle ‘iets kan uitwerk’ om sy inhegtenisneming te voorkom,” sê Mbambo.
Die man moes glo R2 000 elektronies na die speurder se rekening oorplaas. Die speurder het egter Woensdag weer teruggegaan en nog R10 000 geëis om die aanklagte te laat vaar. Die man het gesê hy het nie so baie geld nie en sou reëlings probeer tref om dit te kry.

Die polisiebeampte het die man afgepers. Foto: iStock
Die saak is onder die aandag van die teenkorrupsie-eenheid gebring. Die lokval is Vrydag goedgekeur en uitgevoer. “Die speurder het die geld by die man ontvang en is in hegtenis geneem met die gemerkte geld in sy besit,” sê Mbambo.
Thabang Lesia, provinsiale polisiekommissaris, veroordeel die beweerde optrede van die beampte ten sterkste en sê die polisie duld nie korrupsie in sy eie geledere nie.
Hy het die teenkorrupsie-eenheid vir hul vinnige optrede geloof en sê die suksesvolle operasie stuur ’n duidelike boodskap korrupsie sal uitgeroei word.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

